PHOTO 2024 12 12 14 02 21

Plaastoer: Die Plaatjiemuur

Sol-Tech se wêreldklaskampus het in 2021 sy werkwinkels vir die studente oopgemaak en sedertdien het honderde jongmense se lewenspad al op die kampus ‘n draai gemaak.

Die Sol-Tech plaatjiemuur is ‘n onthou-muur op die kampus wat sprekend van die stories van Sol-Tech se studente is. Dié muur is in 2021 begin om seker te maak dat dit wat op die kampus gebeur, op ‘n betekenisvolle en sigbare manier ook as deel van Sol-Tech se storie verewig word.

Die tradisie het begin toe die eerste studente wat hul Rooiseël-sertifikate op kampus kom afhaal het, se name op ‘n klein staalplaatjie gegraveer en daarna teen die muur geplak is. Raymond Meyer, vandag die elektriese programhoof by Sol-Tech, was een van die eerste studente wie se naam trots op die muur kon pryk. Sedertdien is daar al honderde plaatjies teen die muur geplak en is dit lekker om kort-kort oudstudente te sien wat, Rooiseël in die hand, hul naamplaatjie kom opplak en dan ‘n foto van dié geskiedkundige gebeurtenis neem.

Die muur gee ook erkenning aan studente wat gedurende hul studies, as deel van die Studenteraad, diep spore op kampus getrap het.

Soos wat die lewens van ons studente uit goeie en slegte tye bestaan, vertel die muur ook die hartseer stories. ‘n Deel van die muur dien as herinneringsmuur, hier pryk  die name van afgesterfde studente (en personeel) en dit dien as blywende herinnering aan hul tyd by Sol-Tech.

As jy weer op die Sol-Tech-kampus kom kuier, maak seker dat jy vir ‘n oomblik by  die plaatjiemuur gaan stilstaan. Die muur vertel van leierskap, volharding, vakmanskap en ook dat die lewe bitter kort kan wees. Die name wat jy daar sien, is die name van doodgewone studente wat, deur die beoefening van hul ambag, vandag ‘n reuse impak op die samelewing maak en ‘n beter toekoms, ook vir ons, skep.

Lees meer oor die Sol-Tech Kraal

Lees meer oor die Sol-Tech Panele

Lees meer oor die Ons Bou-standbeel

Nog nuus