DSCF8839

Sol-Tech-klok bind met elke lui geslagte aanmekaar

Op die Sol-Tech-kampus staan ‘n “nuwe” groot klok wat met elke lui die storie van verbondenheid, geloof en liefde klokhelder oor die kampus laat opklink.

Dié klok is op 20 Januarie 2025 tydens die weeklikse Maandagoggend-opening deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, onthul. Met sy wortels uit die dorpie Koffiefontein, pryk die klok trots in ‘n splinternuwe kloktoring in die Werf, langs die Sol-Tech-vlag. Maar, eie aan Sol-Tech, was dit geen gewone seremonie nie en was dit duidelik dat die lui van die klok vorentoe tydens verskeie seremonies by Sol-Tech gebruik gaan word, en diep simboliese waarde in die harte van die wat daarby betrokke is gaan laat.

Die idee van ‘n klok by Sol-Tech kom van die Studenteraad van 2024 wat graag ‘n blywende simbool van hul dankbaarheid aan Sol-Tech wou skenk. Maar, waar spoor jy so ‘n klok in 2024 op?

Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand en self ‘n liefhebber van geskiedenis, kon so ‘n klok by die Gereformeerde Kerk Koffiefontein opspoor. Noëth se ouers kom van Koffiefontein af en sy oupa was betrokke by die jarelange bou van die kerk (vanaf 1925-1937) tydens die Groot Depressie. Noëth het tydens die opening verduidelik dat die Gereformeerde Kerk Koffiefontein ná 100 jaar ontbind het. “Ek het die oorblywende twee gesinne in die gemeente gebel en gevra of hulle die klok aan Sol-Tech sal skenk. Sonder huiwering was die antwoord: Ja!”

Ilse Nell, wie se pa deel van die oorblywende gesinne is, het vanoggend die klok amptelik aan Sol-Tech oorhandig deur dit 12 maal te lui. Hierdie aksie was uit eerbetoning aan die kerk met sy omvangryke geskiedenis en sprekend van die nalatenskap wat hulle nou met Sol-Tech deel. Volgens Ilse is hulle baie opgewonde en bly om te weet dat die geskiedenis van ‘n plattelandse dorpie soos Koffiefontein so besonders kan voortleef. Alhoewel die klok nie meer by Koffiefontein gehoor gaan word nie, kan die werke van die gemeente nou by die jonger geslag weerklink.

Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, het tydens die verrigtinge gesê dat daar vandag met ‘n nuwe tradisie begin word. “Net soos die kerk die klok vir 100 jaar as ’n stem van hoop en eenheid gebruik het, neem Sol-Tech nou hierdie klok oor, met die belofte om daardie stem lewendig te hou. ‘n Nuwe tradisie, gewortel in die inspirasie en nalatenskap van die kerk, word vandag begin.”

Na afloop van die onthulling is die eerste groep Plaasjapie-studente, die nuwe studente op kampus, met die enkele lui van dié klok simbolies vir hul studies by Sol-Tech ingeklok. Dit simboliseer die begin van ‘n pad vol groei, leer en geleenthede en verwelkom elke student as deel van die Sol-Tech-familie. Voortaan gaan dit na elke inname (Sol-Tech het vier innames per jaar) so gedoen word.

Om die proses van begin en klaarmaak by Sol-Tech mooi af te sluit, gaan studente in die toekoms self die klok lui om na afloop van hul studies by Sol-Tech “uit te klok”. Dit sal geskied sodra ‘n student klaar gepromoveer en sy FISA-evaluering geslaag het. “Ek kan nie wag om kort-kort die drie slae vanuit my kantoor te hoor nie,” sê Van Deventer.

Die geluid van die klok gaan ook ingespan word om die einde of afsluit van ‘n fase aan te dui. Wanneer ‘n personeellid aftree of by Sol-Tech klaarmaak gaan hy/sy die geleentheid kry om die klok te lui.

Elke student wat by Sol-Tech studeer vorm deel van die familie en daarom word daar ook in families se hartseer gedeel wanneer oud Sol-Tech studente tot sterwe kom. Daar is dan vanoggend ook eervol afskeid geneem van vier oud-studente, wat tydens die afgelope Desember-vakansie oorlede is, deur die klok sewe maal te lui. Die tradisie sal so voortleef.

’n Klok is nie net ’n instrument wat ‘n geluid maak nie; dit is ’n stem. ‘n Stem wat klokhelder opklink in goeie tye, maar ook in hartseer tye. In tye wat daar fisies gebou word, soos by die Koffiefontein-kerk, en waar daar aan ‘n toekoms gebou word. Hierdie klanke dra ons gebede, ons dankbaarheid, en ons verbintenis voort. Elke beier van die klok is ’n herinnering aan die kerk se jare van diens en opoffering. Elke klank is ’n gebed dat die nalatenskap van geloof, liefde en verbondenheid in die lewens van ons jongmense en gemeenskappe sal voortleef. Geseënd is elkeen wat die boodskap hoor en daarna mag luister!

Nog nuus