Sol-Tech het op 7 Mei 2024 sy Vroeëkinderjare Ontwikkeling (VKO)-kwalifikasie tydens ‘n funksie by Sol-Tech se kampus in Monumentpark bekendgestel en aangekondig dat die eerste studente reeds einde Junie 2024 met die kwalifikasie kan wegspring. Dié kwalifikasie (op NKR-vlak 4) sal op ‘n model aangebied word waar studente deur die omgekeerde klaskamermetode tuisstudie doen en kontaksessies in die middae op Sol-Tech se kampus bygewoon moet word. Werkplekgeïntegreerde-leer vorm ‘n belangrike komponent van die kwalifikasie.
Dié nuwe kuiken in Sol-Tech se nes is spesifiek gemik op skoolverlaters wat in ’n pre-primêre skool werksaam wil wees; individue wat reeds in ’n kleuterskool werk maar ’n formele kwalifikasie wil verkry; au-pairs; kinderoppassers; dagmoeders en tuisskoolmammas wat met 0 – 5 jarige kinders werk. Die intreevlak-kwalifikasie bekwaam studente om met babas, peuters en kleuters (0-5 jaar) te werk.
Volgens Sol-Tech se besturende direkteur, Paul van Deventer, is Sol-Tech besonders opgewonde om op so ‘n manier nog meer jongmense indiensneembaar te maak. “In Suid-Afrika is daar ‘n geweldige tekort aan persone wat spesifiek goed vir die vroeëkinderontwikkelingsfase opgelei is,” sê Van Deventer. “Kinders tussen die ouderdom van 0-5 jaar wat blootgestel is aan goeie opleiding, ontvang ‘n stewige fondasie om eendag goed te kan presteer. Navorsing toon dat daar tans ongeveer 7 miljoen 0-5 jariges in Suid-Afrika is. Die impak wat ‘n goed opgeleide praktisyn op hierdie segment van die samelewing kan hê is beduidend.”
Sol-Tech is die enigste instansie in Suid-Afrika wat hierdie kwalifikasie in Afrikaans gaan aanbied. Die kwalifikasie duur ongeveer 12 maande en die bekende onderwyskundige, dr. Reda Davin, was betrokke by die ontwikkeling daarvan. Aspekte soos voeding, gesondheid, ouderdomspesifieke aktiwiteite, deernis en toegeneentheid, sosiale interaksie asook leer geleenthede, word as deel van die kwalifikasie gedek.
Benewens die teoretiese onderbou plaas die kwalifikasie sterk klem op die praktiese toepassing en daarom het Sol-Tech gehou by die suksesresep wat sy ambagstudente so gesog maak, naamlik dat die teorie, toepassing en werksplekervaring hand aan hand moet loop. Studente kan uitsien na 6 maande se teoretiese onderrig op kampus waartydens toegepaste praktiese waarneming gelyktydig by ‘n kleuterskool plaasvind. Hierna vind werksgeïntegreerde leer vir 3-6 maande by ‘n kleuterskool plaas.
Volgens Van Deventer wys navorsing dat die eerste vyf jaar van ’n kind se lewe die belangrikste is, want dit is die tyd wat die brein die vinnigste groei en, soos ‘n spons dit wat rondom die kind gebeur, absorbeer. Ondervindinge gedurende dié tyd vorm die argitektuur van die ontwikkelende brein en word neurologiese fondasies vir lewenslange leer gevorm. Om hierdie rede is vroeëkinderjare-opleiding van kritieke belang. “Sol-Tech is reg om goed opgeleide vroeëkinderjare-ontwikkelingspraktisyns op te lei om so seker te maak dat klein kindertjies eendag hul volle potensiaal kan bereik om in die toekoms ekonomies-aktiewe volwassenes te wees wat ’n positiewe invloed op die volgende generasie maak. Ter wille van ons kinders se kinders is ons reg om die boublokke vir ’n goeie toekoms ook op so ’n wyse neer te lê.”