Student vaar uitstekend by werkgewer

Francois van der Merwe is ‘n 21M02-inname Meulmakerstudent wat tans besig is met sy indiensopleiding by Design in Gqeberha (Port Elizabeth). Hy was ook in 2022 die studenteraad voorsitter.

Ons het bietjie by hom ingeloer en navraag gedoen oor sy vordering en ervaring tot dusver in die werksplek. Franna (soos hy alom bekend is) sal na beraming sy indiensopleiding teen Junie 2024 voltooi, waarna hy vir sy Vaktoetsaflegging sal kan voorberei.

“Met my uitplasing in November 2022 het ek myself by Design se tak te Amanzimtoti vir indiensopleiding bevind. Daar moes ons ‘n kursus bywoon om opgelei te word in al die handelsmerke soos Ford, BMW , Toyota en Volkswagen se standaard operasionele prosedures te leer, hoe als werk.

Die eerste departement waar ek werksaam was, is metrologie. Metrologie is die wetenskaplike studie van meting. Ek was 4 weke daar en moes basiese metrologie en meetkunde toepas vir die meting van klein parte en toebehore, seker maak dat die volgordes reg hardloop en moes toesien dat die plate op die korrekte tyd gedruk word en nie te groot gedruk word nie.

Van daar is ek na montering waar ons die groot toebehore of gereedskap om die produksielyne volledig te maak, aanmekaar vasgemaak en gebou het.  Ons het ook die gaping verstellings van  klampe gedoen. Ons het letterlik die produksielyngereedskap gebou en die volgordes reg laat loop.

Na dit is ek na fabrikasie waar ons alles tot by die basiese aanmekaar vasgesweis het – groot gereedskap, staanders, voetstukke, alles wat groot en swaar is, is gesweis. Daar het ek weer geleer hoe om MIG- en TIG-Sweis te doen.

Ek is in April 2023 na die tak in Gqeberha (Port Elizabeth) oorgeplaas en het hier robotopleiding ontvang. Met die finale praktiese eksamen het ek geen ineenstortings op my robot gehad nie en 90% op my uitslae verwerf. Die gevolg was dat Design aanbeveel dat ek in die veld van robotika vir hulle moet gaan.

Tans is ek besig met outomatisering – dit behels al die pype en bedrading van vaste toebehore en staanders wat ons bou. Dit word als van sketse af gedoen en daarvan af word volgorde bepalings geskryf. Dit moet dan toegepas en getoets word alvorens bio-prosedures gedoen kan word.

Ek was nog nie by een van die motorvervaardigingsaanlegte of fabrieke nie maar hoop om binnekort die kans te kry, dan is mens deel van die span wat produksielyne gaan installeer.

 Ek het tot dusver baie van kwaliteit werk geleer, ‘n mens kan nie vir ‘n kliënt net ‘n gewone stuk gereedskap gee nie, jy moet seker wees dis pasgemaak en als is reg.

Die werkure is baie lank, dis party dae meer as 12 uur skofte, maar die werkgewers behandel my baie goed en dis werklik ‘n goeie leerskool, om wat jy op kampus geleer het in praktyk te kan toepas.

Ek verlang natuurlik vreeslik baie na my geboorteland en my hartsmense in Namibië, en mis dit om huis toe te kan gaan, maar ek weet ek bou tans my toekoms en dit is net tydelik. Op die ou einde gaan dit als die moeite werd wees.”

Franna, ons wens jou alles van die beste vir die oorblywende tydperk by Design en ons weet jy sal ook die finale vaktoets met vlieënde vaandels deurkom. Baie sterkte, en hou aan om so positief te wees en jou beste te lewer. Ons staan bankvas agter jou!

Nog nuus