Die bekende gesegde, bou ‘n brug en kom daar oor, het hierdie week letterlik op die Sol-Tech-kampus vergestalting gekry.
Dit volg nadat die 40 m lange Sol-Tech voetgangerbrug se dele verlede jaar tussen 5-8 Desember eers langs die pad aanmekaargesit is, en daarna oor al vier die bane van die besige Solomon Mahlangu Rylaan staangemaak is.
Nadat die brug in Desember opgerig is, was daar nog enkele werk wat aan die trappe aan weerskante van die brug, die finale sekuriteit en die handrelings gedoen moes word, om veiligheid ten alle tye te help verseker. Dié werk is pas afgehandel en die studente gebruik sedert Maandag 10 Februarie die brug om veilig en flink tussen die kampus en die Plaashuis (Sol-Tech se koshuis) te beweeg.
Ryan Puckle, ‘n megatronika-student, sê dat hy dit glad nie mis om padlangs oor die besige en raserige Solomon Mahlangu te stap nie. “Ek geniet dit om oor die brug na die kampus te stap en die uitsig wat die brug bied, is baie mooi. Ek kan nou binne 5-10 minute (afhangende saam met wie ek loop) van die kampus tot in my koshuiskamer beweeg.”
Die brug word as ‘n meesterstuk van ingenieursvernuf en ‘n blywende simbool van veiligheid beskryf. Volgens Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, is die veiligheid van Sol-Tech se studente die hoogste prioriteit. “Solomon Mahlangu is ‘n baie besige pad en ons was bekommerd oor die koshuisstudente wat daagliks van die Plaashuis na die kampus moet stap.” Van Deventer sê verder dat, hoewel die kostes verbonde aan die brug hoog was, dit nooit vergelyk kan word met die koste van ‘n lewe nie. “Nou kan ons met ‘n geruste hart weet dat ons studente en personeel ten alle tye veilig heen en weer kan beweeg.”