Op 6 Februarie 2025 het 151 studente oor die verhoog ten aanskoue van vriende, familie en lektore gestap tydens hul promoveringsplegtigheid op die Sol-Tech-kampus.
Die promoveringsplegtigheid vind vier maal per jaar plaas, met verskeie groepe wat deur die jaar hul studies op kampus klaarmaak en dan na die volgende fase promoveer. Die volgende stap is dan om by ‘n goedgekeurde werkgewer hul indiensopleiding te gaan voltooi.
Wat ‘n voorreg om die vrugte van die groepe elektries-; meulmaker-; megatronika-; outo-elektries-; diesel-; gereedskapmaker-; pas-en-draai en IT-studente se maande van harde werk só te sien.
Die toppresteerders van elke ambag is ook tydens die geleentheid aangewys: Zandre van der Merwe (Gereedskapmaker); Dian Giezing (Pas-en-Draai); Annabel Botha (Dieselwerktuigkunde); George van Lemp (Outo-Elektries); Tiaan Botha (Elektries); Johann Dorfling (Meulmaker); Handrich Kotze (Gereedskapmaker) en Gulio van Deventer (Megatronika).
Volgens Annabel Botha (toppresteerder in Dieselwerktuigkunde) het sy, ten spyte van mense wat geglo het dat sy nie die kursus sal kan voltooi nie, dit reggekry om as die toppresteerder in die werkswinkel weg te stap. Van die grootste uitdagings wat sy in die werkswinkel moes oorkom, is die feit dat die werk baie fisies is. Maar, sy sê, sy is ‘n sprekende voorbeeld dat dit definitief nie onoorkombaar is nie.
George van Lamp (toppresteerder in Outo-Elektries) is baie dankbaar teenoor mnr. Johnny Gonsalves, een van sy lektore. “Mnr. Johnny het ‘n groot invloed op my gehad, veral omdat ek ver van die huis af studeer het. Hy het my baie tuis laat voel en al my vrae beantwoord”. George se raad aan voornemende studente is: The problem, once solved, was simple.
Dié promoveringsplegtigheid is ook die eerste promoveringsplegtigheid waarby die helder beier van die ou klok (geskenk deur die SR van 2024) wat op kampus hang, hoendervleismooi net voor die aanvang van die funksie, deur elke gas gehoor kan word.