Top3

Wenner van #JongYster-kompetisie aangekondig

Lohan Möller is, ná weke se ywerige voorbereiding, uitdagende toetse en streng onderhoude, as die wenner van Solidariteit se #JongYster vir 2025 aangekondig. Hierdie toekenning beklemtoon tegniese uitnemendheid en vier ook passie, vernuf en deursettingsvermoë.

Möller het in elke afdeling uitgeblink en ʼn indruk gemaak. “Die wenner van die kompetisie moes volhard, kreatiwiteit ten toon stel en met ʼn goeie gees deelneem. Die #JongYster vir 2025 het dit beslis verdien om te wen,” sê Chereé Meyer, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Studente-Aanbod!

“Dit beteken vir my baie om vanjaar se #JongYster te wees! Vir ʼn ou wat nege jaar ná skool besluit het om by Sol-Tech te kom studeer en só ʼn impak te kan maak, nie net in studente se lewe nie, maar ook in die veld waarin ek is, is regtig ʼn groot eer,” sê Möller.

Lohan het ’n besonderse pryspakket ontvang. Dit sluit in die geleentheid om ʼn gevorderde bestuurskursus by Volkswagen te voltooi, sowel as ʼn gevorderde N-kursus wat deur Technicol SA geborg en deur die Solidariteit Ambagnetwerk gefasiliteer word. Hy word ook genooi om ʼn naweek in Orania saam met die Solidariteit-span deur te bring, waar hy die eer sal hê om die #JongReus-toekenning persoonlik aan die wenner daarvan te oorhandig.

Gerhard Lotz het die tweede plek gewen. “Ek het die kompetisie baie geniet. Daar was baie kompeterende studente wat daaraan deelgeneem het, maar dit was uit en uit ʼn lekker ervaring. Ek is baie dankbaar vir die boor wat ek gewen het – dit is awesome,” sê Lotz. Hy stap weg met ʼn 18V-batteryboor van DeWalt.

Daniel Niemand wat in die derde plek in die #JongYster-kompetisie geëindig het en  ʼn volledige gereedskapstel en -kis gewen het, sê die kompetisie was vir hom ontsaglik lekker. “Ek het geleer om rustig onder druk te bly, en ek was ook lekker fisiek en psigies uitgedaag,” sê hy.

Baie geluk aan die studente wat in die top vyf geëindig het: Stephan Bosshoff, Donae van Deventer, Divan Bornmann, Tertius van Eeden en Daru Pretorius.

Lees gerus hier meer oor die kompetisie.

Nog nuus