Uit die oogpunt van ‘n Sol-Tech-student se ma

Annaretha Fourie se seun, Euvian Fourie, is ‘n afgestudeerde Sol-Tech-meulmaker wat sy Rooi Seël verwerf het en tans oorsee praktiese ervaring opdoen.

Sy vertel meer oor haar ervaring as ma van ‘n Sol-Tech-student:

Laat ons nou maar eerlik met mekaar wees, Wiskunde en Wetenskap is dikwels vir skoolkinders ‘n akademiese struikelblok en vir Euvian was dit geen uitsondering nie. Met die nywerheidsreus, SASOL, in ons omgewing, het ons keuse van hoërskool op ‘n tegniese skool geval, want ‘n elektriese ambag het vir Euvian na ‘n goeie beroepskeuse geklink. Een van die struikelblokke in Euvian se skoolloopbaan was dat skole nie meer aandag skenk aan beroepsvoorligting en spesifieke vakkeuses nie en dan maak kinders in onkunde vakkeuses wat soveel akademiese stremming plaas. Dit word ook beïnvloed deur die nywerhede in jou onmiddellike omgewing en die vereiste wat hulle vir ambagte stel. 

In Euvian se graad 11-jaar het ons toevallig op Facebook van die Sol-Tech Opedag raakgelees. Ons het soveel wyser daar weg gestap en ons het gewens dat ons van al die inligting vroeër geweet het. Die toelatingsvereistes om by Sol-Tech te kan studeer was graad 11, met wiskunde en wetenskap, maar indien dit nie binne jou akademiese vermoë is nie, akkommodeer Sol-Tech die student steeds deur ‘n addisionele oorbruggingskursus. Euvian die toelatingstoets geslaag en hulle het sy plek vir hom reserveer as Meulmaker, aangesien hy eers sy matriek wou voltooi. 

Sol-Tech was vir my as enkelma ‘n antwoord op my gebede. My kind het floreer, bo-gemiddeld presteer en die omgewing waarin hy homself bevind het, het selfvertroue ingeboesem.  

Ek het my kind met ‘n geruste hart afgelaai op die Sol-Tech-kampus. Die  klasgroepe was kleiner wat gehalte onderrig en leer verseker het.  Sol-Tech skep ‘n veilige hawe vir kinders aangesien daar roetine op kampus is en om opleiding in jou moedertaal te ontvang is natuurlik ‘n reusevoorreg. Die dosente het bemoeienis gemaak om studente te leer ken en daar was voortdurend kommunikasie tussen die instelling en die ouerhuis oor die klasbywoning ensovoorts. Dit was werklik gerusstellend, want die wye wêreld daar buite se versoekings het al tot baie kinders se val gelei. 

Euvian was nooit net ‘n nommer nie, elke navraag en versoek rondom die kommunikasie vir wese-pensioen van sy oorlede pa, is met soveel deernis en empatie deur die administratiewe personeel hanteer dat dit ‘n riem onder die hart was.

Euvian het wonderlike vriende gemaak en kameraderie met jongmanne met sterk karakter en goeie waardes beleef. Nadat hy sy beroepsopleiding  op kampus voltooi het, het Ajani hom gehelp met die proses van aansoek doen vir die verpligte 20 maande praktiese opleiding. Ajani het dit georganiseer en soveel onsekerheid en druk van my as ouer se skouers gehaal. Euvian het sy vaktoets in November 2023 afgelê en gekwalifiseer as Meulmaker. Ek is saam met my kind opgewonde oor sy toekoms. Die wêreld wink en hy het ‘n week nadat hy gekwalifiseer het, ‘n aanbod van ‘n maatskappy in Nederland aanvaar. Die kwaliteit opleiding by Sol-Tech het hom toegerus om tans op internasionale vlak sy merk te maak en hy het homself reeds in ‘n baie kort tydjie bewys as ‘n “highly skilled migrant’ in Nederland. Euvian was die eerste leerder van sy skool wat by Sol-Tech afstudeer het en verskeie maats het reeds in sy voetspore gevolg. 

Ek kan Sol-Tech met die grootste vrymoedigheid aanbeveel – die instelling het soveel om te bied:  ‘n belofte van vooruitgang, waar drome verwesenlik word en hulle help om ‘n toekoms te bou vir jongmense. 

Euvian vertel meer oor sy ervaring as student, kyk gerus hier

Nog nuus