Ajani, Sol-Tech se private studenteplasingsmaatskappy, het op 23 April 2025 tydens die openingsfunksie, aangekondig dat dieselwerktuigkundiges, passer-en-draaiers, meulmakers, gereedskapmakers, sweisers en elektrisiëns voortaan hul vaktoetse by sy splinternuwe vaktoetssentrum in Montana (Pretoria) kan aflê.
Ajani staan al vir die afgelope 17 jaar Sol-Tech-studente, wat reeds hul teoretiese en praktiese fase op die Sol-Tech-kampus voltooi het, met plasing vir hul indiensopleiding by ’n goedgekeurde werkgewer by. Die opening van dié vaktoetssentrum verseker dat die student se totale studiereis, van sy/haar eerste dag op kampus tot die verwerwing van sy/haar Rooi Seël, nou meer toeganklik en vinniger gedoen kan word.
Volgens Schikkie Geldenhuys (uitvoerende hoof van Ajani) gaan die vaktoetssentrum dit vir studente, wat aan die minimum vereistes vir ’n vaktoets voldoen, bystaan om hulle kwalifikasie tot op Rooi Seël-vlak te voltooi. “Op hulle beurt kan die nuut gekwalifiseerde ambagslui effektief bydra tot die groei van Suid-Afrika se ekonomie, waar hulle ookal hul ambag beoefen.”
Die tekort aan geakkrediteerde vaktoetssentrums in Suid-Afrika was een van die dryfvere agter die opening van die Ajani Vaktoetssentrum gewees. “Die sentrum verkort die wagperiode vir studente wat nie voorheen toegang tot ’n vaktoetssentrum gehad het nie. Die diens wat Ajani hier lewer, is wêreldklas!” meen Geldenhuys.
Die vaktoetssentrum is deur die QCTO (Quality Council for Trades and Occupations) geakkrediteer, en NAMB (National Artisans Moderating Body) en die chemiese Seta -CHIETA (The Chemical Industries Education and Training Sector Authority) – was aktief betrokke by die proses om die sentrum te akkrediteer.
Alhoewel die fokus uit die staanspoor eers op die toets van gereedskapmakers, passer- en-draaiers, sweisers, meulmakers, elektrisiëns en dieselwerktuigkundiges is, is Ajani reeds in proses om binnekort megatronika en outo-elektries tot sy aanbod by te voeg.
Die sentrum is oop vir enige persoon wat aan die minimum vereistes vir die toelating tot ’n vaktoets in die genoemde ambagte voldoen.
“’n Rooi Seël is die spreekwoordelike kersie op die koek van enige ambagstudent se studiereis. Behalwe vir die ongelooflike trots wat hulle ervaar met die verwerwing daarvan, is ’n Rooi Seël ook ’n tasbare bewys van ’n student se deursettingsvermoë, harde werk en passie vir hulle ambag. Ajani poog om ‘n Rooi Seël binne die bereik van meer jong mense te plaas. Dit kan ontsettend baie deure vir hulle oopmaak en is maar die eerste tree in ‘n opwindende loopbaan wat vir hulle voorlê.”