SR-lid Johan van der Merwe het ‘n inspirerende boodskap aan die studente by die promoveringsplegtigheid gelewer.
Goeiedag dames en here, en my mede-studente
Magtig manne hier is ons. Ek dink vir die meeste van ons het dit nog nie eers mooi ingeskop nie. Ons het vir die laaste jaar en ʼn half saam geleer, saam gestoei, saam gelag en saam gebloei. Maar hier staan ons nou, op die drumpel van iets nuuts en iets groots. En om die geleentheid te vier dink ek dat dit goed is om terug te kyk en dankie te sê aan die mense en geleenthede wat dit vir ons moontlik gemaak het om vanmiddag hier te kan wees.
Eerstens wil ek graag dankie sê aan al die ouers, voogde en rekenpligtiges. Julle het dit vir ons moontlik gemaak om hier te wees en ‘n goeie fondasie vir ons toekoms te lê.
Tweedens wil ek ook aan die lektore dankie sê wat ons tot hier gelei en geleer het. Die feit dat hierdie mense met soveel passie, geduld en moeite ons met die nodige vaardighede toerus is die rede waarom Sol-Tech is wat dit vandag is.
En so, op die noot van Sol-Tech, wil ek graag aan die instansie dankie sê. Dit mag dalk vreemd klink, maar hierdie lyk tog maar net na bakstene en sement hier rondom ons. Maar die manne weet dis veel meer. So baie dankie Sol-Tech, en mag jy nooit verander nie. Mag daar nog baie hoopvolle manne in die teorie-lokaal klas draf. Mag daar nog baie gesweet, gebloei en gefyl word by Handvaardigheid. Mag daar nog baie bikhamers op Sweis se tafels slaan. Mag Masjinering se masjiene nooit stil raak nie. Mag daar nog baie handvaardigheids-Vrydae in Instandhouding gedoen word. Mag daar nog baie drade gespan word in Elektries. En mag die Dieselmanne altyd vuil uit hulle werkswinkel stap. Want dit is dalk net bakstene en sement, maar hierdie werkswinkels lewe.
Ek wil ook graag dankie sê aan my mede-studenteraadslede. Julle het die vriende geword wat ek nooit gedink het ek by Sol-Tech sal maak nie. Julle het my elke dag uitgedaag om ʼn beter mens, student en leier te wees. Saam as ʼn span het geen probleem of uitdaging ons geïntimideer nie. Julle is uitmuntende mense en die wêreld kort meer van julle.
En dan die beste vir laaste -ek wil graag dankie sê aan die mense wat hier voor my sit. Die manne wat ek hierdie pad saam mee gestap het. Maar spesifiek wil ek dankie sê aan die beste Meulmakers (in my opinie) wat Sol-Tech nog gehad het, 22M04. Julle het my lewe vir ewig verander. Vreemdelinge het vriende geword en hierdie vriende het later broers geword. Baie dankie dat ek julle dit kan noem.
Soos ek gesê het staan ons op die drumpel van iets groot – en dis hoop. Want ons is die laaste hoop vir ʼn sterwende manier van lewe, ʼn noodsaaklike manier van lewe. Want sonder dit wat ons hier leer doen, sal die wêreld tot ʼn skreeuende, rokende, en rukkende stilstand kom. Want sonder manne soos ons kan die enjins, aste, ratkaste en beheerkringe van hierdie wêreld nie werk nie. En ek praat hier ook nie net van masjiene nie. Ek praat ook van ons families, ons gemeenskappe, ons land en ons volk. Maar met mense soos die wat hier voor my sit voel ek net een ding, en dit is hoop.