#JongYster wenner ‘n voorslag student

Solidariteit Jongwerkende het vanjaar vir die eerste maal in samewerking met die Solidariteit Ambagnetwerk die #JongYster toekenning, spesifiek ten opsigte van Sol-Tech studente, die lig laat sien.

Dié toekenning loop sy aan sy met die #JouYster toekenning (vir reeds gekwalifiseerde en gesoute ambagslui) omdat goeie ambagsopleiding en harde werk in jou studentejare reeds die fondasie lê om eendag in ‘n ambagsberoep te kan uitblink.

Met hierdie unieke toekenning wou Solidariteit Jongwerkende graag die topstudent van al die ambagprogramme wat deur Sol-Tech aangebied word vereer vir sy / haar ywer en trots tydens hul studentejare.

Die #JongYster staan as topstudent bo al die ambagte uit, werk akademies hard, neem deel aan ander kampusaktiwiteite en ondersteun sy medestudente waar hy kan – ‘n ware #Yster.

Charl Jan van Wyk (almal ken hom as CJ), 21M04P-groep Meulmakerstudent, en tans besig met sy praktiese opleiding, het saam met 4 van sy mede-praktiese studente vanuit die Elektries, Dieselwerktuigkunde, Sweis en Passer-en-Draaier geledere om hierdie uitsonderlike toekenning meegeding en uiteindelik met die louere weggestap.

Hy het onlangs besluit om sy studies verder te neem en na voltooiing van die Meulmaker praktiese opleiding die keuse om met Megatroniese opleiding voort te gaan deurgevoer. Sy teoretiese en praktiese punte spreek van sy toewyding en erns met sy studies.

CJ het as splinternuwe #JongYster wenner ‘n paar besonderse pryse losgeslaan: ‘n gevorderde bestuurskursus by Volkswagen SA, waar hy ‘n Golf R gaan bestuur; gratis verdere opleiding in die vorm van ‘n N-kursus of ‘n bedradingslisensie; ‘n naweek wegbreek by Kokoriba ontspanningsoord en ‘n geskenkpak vanaf Sol-Tech.

CJ sê dat die toekenning hom motiveer om nog verder ná sy Megatronika studies homself te bevorder.

Sol-Tech is baie trots op jou CJ, doen so voort, voorspoed en hou jou oog op jou toekoms!

Nog nuus