Sol-Tech promoveringsplegtigheid
Dr Pierre Edwards was die gasspreker tydens die Oktober Promoveringsplegtigheid en het ’n kragtige boodskap gelewer.
Dames en here
Ek het ‘n bekentenis te maak teenoor hierdie groep Sol-Tech-studente: Ek is vrek jaloers dat ek nooit die voorreg gehad het om soos julle aan Sol-Tech te kon studeer nie.
Laat ek verduidelik: ek glo ek hou die rekord vir die persoon wat die meeste begeleide toere deur Sol-Tech beleef het. Sedert die amptelike opening vroeg in 2021 het ek al ten minste drie begeleide toere belewe. Die laaste een in Februarie vanjaar. Telkens dieselfde aangename en inspirerende ervaring gehad: eersteklas fasiliteite, kwaliteit personeel en studente. My ervaring was ‘n kultuur van uitnemendheid, waarvan ek graag deel van sou wou wees!
Helaas: ek kon nie vir ‘n enkele kursus kwalifiseer nie . . . My vrou se opmerking was bloot dat ek ‘n gevaar vir my mede-studente sou inhou!
Ek was bevoorreg om oor vele dekades, sedert die sewentigerjare van die vorige eeu, na ‘n hele paar promoveringstoesprake te luister. Tot my ontnugtering moet ek erken dat daar slegs twee is wat by my uitstaan. En die rede daarvoor is nie dat die sprekers nie goeie toesprake gelewer het nie. Dit was bloot omdat dit waaroor hulle gepraat het, nie deel van my verwysingsraamwerk was nie en dat ek daarom van die inhoud vergeet het.
Die een toespraak was in 1984 deur die destydse rektor van Kovsies, prof. Benedictus Kok, waar hy aan die einde van ’n twee-uur lange gradeplegtigheid in ‘n baie warm Callie Human-saal, uit die vuis ‘n halfuur lange, boeiende uiteensetting van die rol van “entoesiasme” in jou studies en lewe voorgehou het. Almal aangeraak!
Die tweede is ‘n YouTube-video van ‘n 2005-promoveringstoespraak by Stanford Universiteit, waarna ek later terugkom.
Dames en Here:
Ek is nie van plan om enigsins in die voetspore van hierdie legendariese figure te probeer loop nie. Ek hoop om met my toespraak vir u goeie nuus te gee vir u lewenspad vorentoe. En as u in die jare vorentoe dalk net aan een van die gedagtes kan vashou, dan was dit die moeite werd.
My vertrekpunt is ‘n baie bekende stelling van die Deense filosoof, Soren Kierkegaard, wat min of meer soos volg in Afrikaans vertaal kan word:
Die lewe moet vorentoe geleef word, maar kan net by terugskou verstaan of begryp word. In kort: dit is eers later in jou lewe dat jy perspektief kry op hoe bevoorreg jy was en hoe belangrik sekere gebeure in jou lewe was. Nog meer belangrik: watter rol instellings in jou lewe gespeel het en hoe hierdie instellings en mense jou gevorm het. Met ander woorde: dit is eers later dat mens perspektief op die verskillende mylpale in jou lewe kry.
Ek dink die ouers en grootouers in die gehoor sal met my saamstem oor die geldigheid van Kierkegaard se stelling.
‘n Goeie beeld om Kierkegaard se stelling te begryp, is as jy jou lewensreis vergelyk met die klim van ‘n berg deur dig begroeide plantasies. Jy kan net ‘n klein afstand van die bergpaadjie waarneem, maar jy weet nie hoe ver jy al teen die berghang gevorder het nie. Eers as jy die kruin bereik, kry jy perspektief op die roete wat jy afgele het.
Wat ek vandag wil doen is om vir u ‘n bietjie perspektief te verskaf op waar u uself nou op hierdie lewensreis ondervind. En dit is alles goeie nuus!
In die eerste instansie: Ek wonder of u besef hoe bevoorreg u is om ‘n naskoolse kwalifikasie te verwerf? U is deel van ‘n klein persentasie bevoorregte mense in Suid-Afrika maar ook in u familie!
Ek kan baie goed onthou, in die vroeë sewentigerjare, toe my ouer broer en ek een aand in ons ouerhuis in Sunnyside, Pretoria, aan weerskante van ’n stinkhoutlessenaar wat my Pa met sy eie hande gemaak het, met ons universiteitsstudies besig was.
My Pa se opmerking aan ons in die verbyloop: “Besef julle hoe bevoorreg julle is?” het my koud gelaat. Ek het niks bevoorregs gesien in my gesukkel om ’n wiskunde werksopdrag onder die knie te kry nie. Op daardie stadium het ek dit as vanselfsprekend aanvaar dat jy matrikuleer, ‘n tersiere kwalifikasie verwerf en begin werk.
Eers later toe ek ons familiegeskiedenis navors, het ek vasgestel dat my Pa in die depressie dertigerjare van die vorige eeu, skool aan die einde van graad tien moes verlaat. Rede: daar was nie geld nie.
In sy skooljare, die negentiendertigs, het slegs een uit tien Afrikaners gematrikuleer, om van naskoolse kwalifikasies nie eers te praat nie.
Dit mag nou vir julle klink of ek van antieke tye praat . . . maar as ons op dertig jaar per geslag werk, beteken dit dat dit in jul oupagrootjie se tyd was.
Ek sal julle ‘n weddenskap aangaan, dat nie meer as tien persent van julle oupa- en oumagrootjies gematrikuleer het nie . . . Stel gerus ondersoek in. Vra vir jou ouers en grootouers wie die eerste persoon in julle familie was wat gematrikuleer het, en wie die eerste was wat ‘n tersiere kwalifikasie verwerf het.
Besef dus dat jy ‘n uiters bevoorregte student is. In jou familie en gemeenskap was daar in die vorige eeue baie slimmer en talentvolle mense wat, deur omstandighede buite hul beheer, dit wat jy reeds vermag het, ontsê is. Ek het nie presiese syfers nie, maar ek is oortuig dat minder as tien persent van ons skoolgaande kinders uiteindelik ‘n tersiere kwalifikasie, wat gewig dra, verwerf.
‘n Tweede gelukwense: Jy is ook deel van ‘n pioniers-generasie. Wat bedoel ek daarmee? My geslag het die voorreg gehad om van voorskoolse tot tersiere vlak in Afrikaans onderrig te word. Ons het dit as vanselfsprekend aanvaar . . . U almal weet hoe daardie grondwetlike voorreg na 1994 stelselmatig beperk is. Ek wil nie daarop ingaan nie, behalwe om weer eens die visioenêre leiers te loof wat op ‘n dag besluit het om hand aan die ploeg te slaan en ‘n Sol-Tech en Akademia tot stand te bring. As Soltech-studente verteenwoordig julle dus ‘n nuwe geslag pioniers. Julle het die voorreg gehad om wêreldklas opleiding (en opvoeding) in Afrikaans te ontvang.
‘n Derde gelukwense: op hierdie stadium besef jy nog nie watter goeie stempel Sol-Tech op jou as mens afgedruk het nie. Jy glo waarskynlik dat alle tersiêre instellings soortgelyk is. Jy sal op die pad vorentoe agterkom hoe bevoorreg jy was.
Maar: Die groot vraag is wat gaan jy met hierdie gesogte kwalifikasie doen? ‘n Goeie tersiêre kwalifikasie gaan nie noodwendig ‘n suksesvolle beroepsloopbaan en nog meer belangrik, ‘n gelukkige lewe verseker nie.
Jy het iets meer nodig!
Ek het reeds verwys na die toespraak van prof. Kok oor entoesiasme en ek wil nou graag in aansluiting daarby, u verwys na ‘n toespraak van ene Steve Jobs, gewese grootbaas van Apple, in 2005 by Stanford Universiteit in die VSA. Toevallig een van die voorste Amerikaanse universiteite. Die kruks van Jobs se toespraak was dat jy so gou as moontlik moet uitvind wat die passie in jou lewe is en dit moet najaag, al is jy nie seker waar hierdie passie jou in die lewe gaan bring nie.
Hoekom ek Jobs as voorbeeld gebruik is oor sy ongelooflik gebeurtenisvolle lewe. Ongelukkig nie die tyd daarvoor nou nie, maar ek wil u aanraai om Steve Jobs op YouTube te Google. Dit sal u opnuut laat besin oor wat belangrik in die lewe is.
Wie van u besit ‘n slimfoon?
Ek wonder hoeveel van u besef dat die wondere van ‘n slimfoon maar die afgelope sewentien jaar tot ons beskikking is. So van ongeveer 2007 af, toe die eerste iPhone op die toneel verskyn het. Dit is grootliks te danke aan die visie van ‘n buite-egtelike kind, wat deur sy student-ma vir aanneming weggegee is op voorwaarde dat sy aangenome ouers hom eendag universiteit toe stuur.
Die student, Steve Jobs, het egter na ses maande sy kursus gestaak, maar in plaas van te gaan werk, het hy vir ‘n jaar en ‘n half op die kampus rondgeswerf, in sy mede-studente se koshuiskamers skelm oornag, Coke blikkies ingeruil om aan die lewe te bly en Sondae-aande meer as 11 kilometer gestap vir ‘n gratis bord kos by ‘n Oosterse kerk.
Dit alles omdat hy ‘n kursus ontdek het wat vir hom sin en betekenis gegee het, maar wat ligjare van sy latere loopbaan, rekenaars, verwyder was. Ek praat van die Kalligrafie kursus, dit is: die kuns van skoonskrif. (in Grieks: Kallos=skoonheid en graphe=skrif)
Daardie kursus sou uiteindelik ‘n groot rol in die ontwerp van rekenaars en selfone se sleutelborde speel, veral die iPhone en ander slimfone wat sedert 2007 ons almal se lewens ingrypend verander het.
Siende dat u almal deel is van ‘n nuwe menslike geslag wat ure lank voor skerms deurbring, wil ek u aanraai om na Steve Jobs se gradeplegtigheidstoespraak in 2005 by Stanford Universiteit op YouTube te gaan kyk.
Sy toespraak sluit baie mooi aan by wat prof. Kok in 1984 by ons probeer tuis bring het: jy moet iets in jou lewe vind waarin jy jou passie vir die lewe met entoesiasme kan uitleef.
Wat hierdie twee uitstaande mense eintlik vir ons wou sê is dat die lewe oor veel meer as die verwerwing van ‘n kwalifikasie en werk gaan! (Terloops: Jobs het nooit enige tersiêre kwalifikasie behaal nie.)
In hierdie verband wil ek jou weereens gelukwens: Jy het veel meer aan Sol-Tech verwerf as ‘n kwalifikasie. Die saadjie van ‘n sinvolle lewe is hopelik ook op hierdie kampus geplant en gevoed deur jou omgang met lektore en studente, en die kultuur van uitnemendheid, al het dit op hierdie stadium nog nie tot jou deurgedring nie.
In die jare vorentoe sal jy met baie uitdagings in jou persoonlike en professionele lewe gekonfronteer word. Die waardes wat op Sol-Tech aan jou voorgehou is, sal jou help om hierdie stroomversnellings te hanteer.
Ter afsluiting: As Christen wil ek jou na ‘n verwerking van Prediker 9, deur Stephan Joubert, verwys wat vir my en my eggenote van besondere waarde is. Dit lui as volg:
Grootste voorreg denkbaar om te leef.
Ons ontvang die lewe net een dag op ‘n slag.
God wil hê jy moet vandag gelukkig wees, want vandag is al wat jy het.
Jy weet nie wat vir jou voorlê nie, hoe goed jy ook al jou toekoms beplan.
Om die kuns van die lewe te bemeester moet jy leer om die beste gebruik te maak van elke dag wat jy het, om dit te vul met God se vreugde (Affie-onderhoofseun 2004 Saal afsluiting: moenie die dae tel nie maar laat die dae tel!)
As jy nie vandag ‘n sukses kan maak nie, as jy nie daarin slaag om vandag in die klein dingetjies in jou lewe vreugde te vind nie, hoe gaan jy dit ooit môre regkry?
Wat gaan môre anders wees wat jy nie al vandag het nie?
Hoekom kyk jy altyd oor die horison in die toekoms in as jy op soek is na vreugde?
Hoekom ontduik vreugde jou altyd vandag, maar jy soek daarna vorentoe in jou lewe?
Jy het net vandag die kans om gelukkig te wees.
Kyk na vandag . . . maak vandag jou dag.
Kies vandag God se pad, kies om Sy wil te doen.
Stel jou oop vir Sy vreugde en ontvang dit nog vandag.
Baie dankie!