meesterambagsman

Meesterambagsman: Die beroep, die rol en die belangrikheid daarvan

Deur Mia Slabbert

Solidariteit se beroepsopleidingsinstelling, Sol-Tech, spog met een van net ’n handjievol Meesterambagsmanne wat nog in Suid-Afrika oor is. Leon van Wyk is al sedert 1989 betrokke by die opleiding van vakleerlinge en het 16 jaar as opleidingsbeampte by Eskom se opleidingskollege gewerk.

“Ek is in 2007 by Sol-Tech aangestel, wat in daardie stadium uit vier personeellede bestaan het. Dit was my verantwoordelikheid om die meganiese opleiding van Sol-Tech op die been te bring en dit was ’n ongelooflike uitdaging. Ek het my uitgeleef in my passie vir opleiding en was uiteindelik verantwoordelik vir die eerste groep meganiese vakleerlinge wat deur Sol-Tech gekwalifiseer het,” vertel Van Wyk op ’n koue wintersoggend in sy kantoor by Sol-Tech.

Gedurende die 11de eeu het gildes (oorkoepelende liggame) uit broederskappe, krygsbendes, monnike en koopmanne bestaan. Later van tyd het verskillende ambagte hulle eie gildes gevorm wat uit leerjongens, vakmanne en meesters bestaan het.

“Voordat ’n vakman ’n meester kon word, moes hy sy spesifieke vaardighede bewys deur letterlik ’n meesterstuk met sy hande te vervaardig. Hy moes ook bewys dat hy die werktoerusting wat in sy ambag gebruik word, self kan maak én herstel as dit stukkend is,” vertel Van Wyk met trots en wys vir my sy meesterstuk wat hy vir sy kwalifikasie gemaak het.

In 1995 is daar by Eskom, in samewerking met Duitsland en UNISA, vir die eerste keer ’n groep van 20 elektriese en meganiese ambagsmanne gekies om die Meesterambagsman-kwalifikasie in Suid-Afrika te doen. Van Wyk was een van die 20.

“Ek was so bevoorreg om een van die groep te wees. Die program is voltyds vir ‘n jaar aangebied. Die vereistes was ’n eksamen wat uit teorie, ’n praktiese komponent wat binne 200 uur voltooi moes word en ’n mondelinge eksamen bestaan,” vertel Van Wyk.

Tydens die gradeplegtigheid by UNISA is Van Wyk as die beste meganiese student aangewys. “Ek is baie trots op my Meesterambagsman-kwalifikasie asook die toekenning wat ek gekry het. Dit het baie harde werk, opofferings en groot deursettingsvermoë geverg.”

In Duitsland het Meesterambagsmanne selfs in die moderne tyd behoue gebly. “In baie besighede word daar vereis dat spesifieke ambagte steeds deur ’n Meesterambagsman bestuur moet word, of ten minste dat daar ’n Meesterambagsman in diens geneem moet word. In 2012 is daar besluit dat die Meisterbrief (Meesterambagsman-sertifikaat) gelykstaande is met ’n BA-graad. Die Meesterambagsman is in Duitsland die hoogste professionele kwalifikasie in ambagte en dit sluit teoretiese en praktiese opleiding in die ambagte in, asook besigheidsopleiding en regsopleiding,” sê hy.

Van Wyk meen egter dat Meesterambagsmanne nie vandag in Suid-Afrika genoeg geleentheid kry om hulle talent te ontwikkel en om op hoogte te bly van ontwikkelinge, nuwe tegnologie en internasionale standaarde en vereistes vir die beroep nie.

Volgens hom is dit die rede dat Meesterambagsmanne in Suid-Afrika in hulle gewone beroepe terugval. “Ambagsmanne word ongelukkig in administratiewe poste aangewend waar hulle ware talente, hulle praktiese ervaring en hulle kennis ten opsigte van hulle spesialiteit nie ten volle benut word nie. Die waarde van ’n Meesterambagsman gaan ongelukkig hierdeur verlore,” meen hy.

Volgens Van Wyk is hy elke dag dankbaar dat hy sy Meesterkennis by Sol-Tech kan belê. “In die elf en ’n half jaar wat ek nou al by Sol-Tech is, het ons baie sukses behaal en bo verwagting goed presteer. Ons het vinnig gegroei met ongelooflike personeel en sodoende ’n stewige fondament gelê waarop ons kan voortbou.”

Sol-Tech is ʼn privaat beroepsopleidingsinstelling wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik. Sol-Tech bied formele opleiding in die volgende studierigtings aan: Elektrisiën, Meulmaker, Dieselwerktuigkundige, Passer-en-draaier, Sweiser, Trekkerwerktuigkundige en Gereedskapmaker.

Die Solidariteit Beroepsgildes is ‘n beroepsgemeenskap en ‘n tuiste wat fokus op spesifieke beroepe waar jy in jou besondere beroep kan tuis voel, saam kan werk en saam kan leer. Die Beroepsgilde vir Ambagte tree nie net op as waghond oor die beroep nie, maar beywer hom ook daarvoor om die kwaliteit van ambagslui en die industrie as geheel te bevorder. Opleiding word deur die gilde se netwerk van werk verskaf.

Vraag en Antwoord

Wie kan ’n Meesterambagsman word?

Iemand wat reeds ‘n ambagkwalifikasie het en dan oorgaan na ’n hoër trappie van ambag en wat fokus op die finesse van die beroep soos die fyner besonderhede van die ambag. Dit is ’n persoon wat regtig raakvat met sy hande en die spesiale deel van ’n komponent doen. Dis ook iemand wat nie net werk met gewone materiale nie, maar iemand wat die metallurgiese eienskappe van materiaal ondersoek.

Het jy enige wenke vir iemand wat in jou voetspore wil volg?

Moet nooit ophou leer nie, want ervaring en kennis kan nie gekoop word nie. Wees passievol en geniet elke stukkie van wat jy doen. Indien iemand hierdie woorde lees en diep in hulle harte weet dat hulle fyner na hulle ambag kyk, sal ek hulle aanraai om sommer vinnig ’n rolmodel, of ’n Meesterambagsman, op te spoor en dan begin deur by daardie persoon te leer.

Is daar ’n toekoms vir die jeug in die beroep?

Daar bestaan op die oomblik groot leemtes in sekere skole ten opsigte van tegniese opleiding en vaardighede. Handvaardigheid word nie aangeleer nie weens die gebrek aan instandhouding van toerusting, fondse en goeie onderrig. Baie studente moet eers op standaard gebring word om met tersiêre opleiding te kan voortgaan. Dit is ’n voorreg, maar ook ’n groot uitdaging, om met die ambagjeug van Suid-Afrika te werk, want hulle rol in die beroep is so ongelooflik belangrik. Dit is ’n beroep wat nooit gaan uitsterf nie, want al klop die vierde industriële revolusie aan ons deur, gaan daar altyd ’n behoefte wees om die handewerk van die masjinerie te doen.

Kontak gerus vir Leon van Wyk by leon@sol-tech.co.za vir meer inligting.

Word deel van Solidariteit se Beroepsgilde vir Ambagte wat jou loopbaanvennoot op jou pad na meesterskap is: https://gildes.solidariteit.co.za/

Nog nuus