Movember op kampus is ‘n snorerige storie

November=Movember! Movember is ‘n jaarlikse gebeurtenis, net soos Borskanker bewustheidsmaand in Oktober vir alle dames, wanneer dapper en onbaatsugtige mans regoor die wêreld vir die maand spesifiek ‘n snor groei, en vroue opstaan om hulle te ondersteun. Dit word gedoen om bewusmaking en fondse vir mans gesondheidskwessies in te samel – spesifiek prostaatkanker, testikulêre kanker, geestesgesondheid en selfmoordvoorkoming (prostatecanceruk.org).

Movember is ‘n samevatting van die Australies-Engelse verkleinwoord vir snor, “mo” en “November”.

Maar waar en hoe het dit tot stand gekom?

Twee “mates” (Travis Garone en Luke Slattery) het mekaar in 2003 in Melbourne, Australië, vir ‘n bier ontmoet, en die idee wat Movember laat ontstaan het, is gebore. Die snor het amper van modeneigings verdwyn en hulle het gewonder of dit teruggeneem kan word?

Hulle het 30 ouens gevind wat bereid was om die uitdaging aan te pak, en dit het vandaar tot bykans 5 miljoen gevorder! Dit word jaarliks in meer as 20 lande gesien en gedoen. Die aanvanklike doel was net om die man se gunsteling vorm van gesighare te vier en ander aan te moedig om ook vir die maand ‘n snor te groei, maar dit het toe in iets baie meer sinvol en iets met meer impak ontwikkel.

Die reëls volgens die Movember-reëlboek om aan Movember deel te neem is:

  • Begin met ‘n skoon geskeerde gesig. Om almal ‘n regverdige kans te gee, Moet jy Movember met ‘n skoon geskeerde gesig begin.
  • Laat jou Mo vir ‘n hele maand groei.
  • Hou jou baard skoongeskeer, d.w.s. hou jou kennebak haarloos.
  • Vind jou snorstyl en versorg dit goed. Daar is verskeie style waaruit gekies kan word.
  • Verhoog bewustheid (en fondsinsameling) vir mansgesondheid.

By Sol-Tech vier ons ook Movember met ywer en vet pret. Die manspersoneel (en van die studente) sê mekaar die stryd aan en word alle baarde en snorre (sommer op kampus partykeer) bygedam, afgeskeer en netjies gemaak. Jy sien snorre van alle kleure en snitte, selfs sommiges wat van die beste en bekendste historiese snordraers van destyds skaam sal laat kry!

Aan die einde van Movember word daar dan wenners aangekondig van die mees indrukwekkendste snorre.

Sol-Tech het vanjaar spesiaal formele hemde ten bate van Borskankermaand en Movember  vir personeel laat maak om solidariteit met die 2 veldtogte te wys asook in ondersteuning van personeel wat al op hul lewenspad met van die toestande moes deel. Blou en pienk strikkies is ook in Oktober uitgedeel en was daar in Oktober ‘n groot pienk strik aan die windpomp sigbaar.

Aan die “Mo Bros” manne in Movember: Moenie dit namaak nie. Geen baarde, geen “goatees” en geen vals snorre nie. Gebruik die krag van die snor om gesprek te skep en fondse vir mansgesondheid in te samel. Elke Mo Bro moet homself soos ‘n ware heer gedra.

En vir die dames wat ondersteun: Wat is ‘n Mo Sista? Vroue (genoem Mo Sistas) wat aan Movember deelneem, is toegewyd om die mans in hul lewens te ondersteun deur die belangrikheid van mansgesondheid te bevorder.

Nog nuus