Vanessa Verster

Vroue van staal staan hul man – Vanessa Verster

Die ambagswêreld word tradisioneel gesien as ʼn manswêreld waar gespierde kêrels met oliebesmeerde hande in vuil oorpakke werk. Die werklikheid is egter ver verwyder van dié stereotipe, en ʼn mens tref deesdae ook fyn dames met netjiese poniesterte en mooi geverfde naels in ʼn werkwinkel aan. By Sol-Tech staan die Evasgeslag (in hoëhak- en veiligheidskoene) waarlik hul man, by wyse van spreke. Sol-Tech het 70 personeellede waarvan 39% vroue is. Sol-Tech het reeds 12 vroue in verskillende ambagte opgelei, meestal as elektrisiëns, maar ook as dieselwerktuigkundiges, gereedskapmakers en meulmakers. Ons het met Vanessa Verster gesels om oor oor die praktyk te wete te kom.

Vanessa Verster (adjunkhoof: onderrig en opleiding)

Vanessa is in Pretoria gebore en noem die destydse PU vir CHO haar alma mater. Haar formele akademiese agtergrond is in kliniese sielkunde.

“My drie kinders is myns insiens my belangrikste nalatenskap en ek beskou my drie aangetroude kinders as ʼn wonderlike seën en ʼn voorreg. Ek het drie kleinkinders en ek hoop vir nog.”

Op die vraag oor wat sy die meeste van haar werk geniet, antwoord sy onomwonde: “Mense; die Sol-Tech-familie; die ongelooflike manier waarop mense hulle beywer vir gehalteonderrig en -opleiding en die feit dat dít wat gister goed genoeg was altyd deur dít wat ons môre gaan doen, oortref gaan word. Ons leuse is nie verniet: “Môre begin vandag” nie!

  1. Die ambagswêreld word tradisioneel as ʼn manswêreld gesien. Hoe ervaar jy dit in praktyk?

Dit is so dat die tegniese omgewing tradisioneel ʼn manswêreld is. Geleenthede vir die vroulike geslag om in die tegniese omgewing ʼn loopbaan uit te kerf, word egter veral vanweë die wegbeweeg van harde handearbeid en die rekenarisering van stelsels al meer haalbaar.

Daar is gereeld dames by Sol-Tech wat hulle in ambagte bekwaam soos om elektrisiëns of dieselwerktuigkundiges te word en dié dames staan regtig nie vir hul manlike eweknieë terug nie. PLC en selfs omgewings soos CNC en 3D-drukwerk is ook gebiede waarin dames hulle baie goed van hul taak kwyt sonder om hul vroulikheid in te boet. Dit is dikwels so dat ʼn kleiner liggaamsbou, mobiliteit en ʼn vaste hand fyner kan werk en beter vaar in knapper spasies wat ʼn gawe voordeel in sommige ambagte is. Ons verwelkom graag dames by die instelling!

  • Jy is ʼn spesialis op die gebied van programontwikkeling en is ook gemoeid met die ontwikkeling van nuwe kwalifikasies vir Sol-Tech. Watter programme sou jy graag in die volgende twee jaar by Sol-Tech se programaanbod wou voeg, en is daar ook iets meer “vroulik” in die pyplyn?

Sol-Tech het ʼn unieke rol om te vervul te midde van die steeds groeiende vraag na goed gekwalifiseerde tegniese en beroepsgerigte individue in die arbeidsmark.

Tegniese en ambagsopleiding sal altyd die kernfokus van Sol-Tech bly en ons werk hard daaraan om ons aanbod van tegniese kwalifikasies só uit te brei dat dit ons studente, sowel as die arbeidsmark sal bly bevoordeel te midde van die vierde nywerheidsrewolusie. Ons is reeds besig om te kyk na kwalifikasies vir verdere spesialisering, soos byvoorbeeld die verwerwing van bedradingslisensies asook kwalifikasies en korter leerprogramme wat diversifikasie vir reeds gekwalifiseerde ambagslui moontlik maak.

Sol-Tech streef ook daarna om by ons nuwe kampus onderrig- en opleidingsgeleenthede aan die gemeenskap waarbinne ons funksioneer, te bied. In die verband dink ons aan die aanbieding van kort leerprogramme wat vaardighede moontlik sal maak wat waarde toevoeg tot mense se self-onderhoudendheid (byvoorbeeld algemene huishoudelike instandhouding, die aanleer van nuttige vaardighede soos sweis, die gebruik van ʼn draaibank, rekenaarvaardighede en dies meer). Ons het immers deur ons gemeenskap vir ons gemeenskap ontstaan.

Aan die beroepsertifikaatfront kyk ons ook na unieke geleenthede, spesifiek kwalifikasies vir dames soos byvoorbeeld ʼn kwalifikasie in vroeëkinderjare-ontwikkeling, konferensie- en geleentheidsbestuur en loopbaanberading. Ons is werklik opgewonde oor dié moontlikhede!

  • Watter vroue inspireer jou en waarom?

ʼn Mens sou baie bekende name van vroue wat baanbrekerswerk iewers gedoen het, grense verskuif het, die beperkings van rolverdeling eenvoudig uit hul pad gestoot het hier kon vaspen en inryg – groot name van formidabele vroue.

Maar vroue wat my werklik inspireer, is dikwels die onbesonge ankers wat te midde van die lewe se storms bly vasstaan, hul kinders met die regte waardes en integriteit grootmaak, vasbyt, ondersteun en stil-stil sonder ophef, aanhef en grootskaalse erkenning bly bou, bly hoop, bly bid, bly werk, bly aanmoedig, bly glo, bly omgee – wat dikwels opstaan vir en uitreik na ander, hulself dikwels onbaatsugtig beywer vir hul gesinne en dít wat werklik saak maak.

Ek ken sulke vroue. Hulle is die gom wat gesinne, families, gemeenskappe bymekaar hou. Húlle inspireer my.

Nog nuus