Die sleutels van jou eerste motor voel lekker in jou hand en jy kan nie wag om kilometers op die klok te sit nie. Maar wag ‘n bietjie, ‘n studentemotor kort petrol/diesel en dít is ‘n peperduur kommoditeit.
John Gonsalves (lektor in vervoer(outo)-elektries by Sol-Tech) deel ‘n paar wenke oor hoe om jou rande te rek en meer kilometers uit ‘n tenk brandstof te kry.
Moet nie onnodig met jou lugversorger aan ry nie
Dit is ‘n moeilike een aangesien ons in sonnige Suid-Afrika bly. Die lugreëling in jou motor werk met ‘n drukpomp wat krag vanaf die motor se enjin ontvang. Probeer dus om die gebruik van die lugversorger vir die langpad te bêre en gebruik maar die natuurlike Afrika-windversorger (mits jy nie moet stop of wag en dit gevaarlik is om met ‘n oop venster te ry).
Maak seker die bande van jou motor se lugdruk is reg
Die weerstand tussen jou motor se bande en die pad word verhoog indien jou bande nie styf genoeg gepomp is nie, wat tot verhoogde brandstofverbruik lei. Die AA (motorvereninging) meen dat jy 3.3 persent meer gebruik uit jou tenk kan kry indien jou motorbande teen die regte druk gepomp is. Maak ‘n punt daarvan om dit maandeliks na te gaan.
Laat jou motor gereeld diens
Maak seker dat jou motor op ‘n gereelde basis gediens word (ja, dit kos geld, maar is die moeite werd) en dat die lugfilter skoongemaak word. ‘n Vuil lugfilter maak van jou motor ‘n brandstofvraat en dat dit onekonomies is.
Hou by die regte spoedgrens
Jy kan ‘n toep aflaai wat jou vir goeie bestuur beloon en sodoende in die goeie gewoonte kom om binne die spoedgrens te ry. Deur nie soos ‘n wafferse Verstappen te jaag nie hou baie voordele vir jou in, onder andere ook ‘n tenk brandstof wat langer sal hou. Vermy vinnige versnelling in stop- en ry-areas en om te vinnig te wil draai.
Ry saam
Die beste manier om brandstof te bespaar is om met Potifar (jou voete) te reis. Besluit andersins om in ‘n groep saam te ry en die kostes te deel. So kan jy ook mense ontmoet en bietjie kuier tussen bestemmings.