Op 28 Februarie 2025 het die Sol-Tech studenteraad vir die eerste keer ‘n “Vrydag Vasbyt” ten bate van CANSA aangebied.
Alhoewel daar gereeld CANSA Shavathons op kampus aangebied word, was die Vasbyt ‘n eerste, maar beslis nie die laaste nie.
Volgens Cobus Coetzee (Studentesakebestuurder) was die doel van die dag om bewusmaking rondom kanker en persone met kanker te skep. “Die SR het ‘n aflosstap aangebied en die spanne vooraf aangemoedig om volgens die tema van voertuigvervaardigers en hul handelsmerke aan te trek. Die spanne het baie moeite gedoen!”
Nege spanne van 10 studente en/of personeellede het deelgeneem. ‘n Roete is op kampus uitgelê en daar moes deurentyd twee deelnemers per span op die roete wees. Die aantal rondtes wat afgelê is, is aangeteken. Sekere spanne was daar om te wen, terwyl ander vir die geselligheid deelgeneem het. Almal het saamgestem dat dit vet pret was! Veral die toutrek ná die tyd was groot pret!
Tesame met die stap is daar ‘n Shavathon aangebied waarmee R4 000 ingesamel is. ‘n Paar brawes het hul poniesterte laat afsny en dit ook aan CANSA geskenk vir die maak van pruike.
Baie geluk aan die JEEP-span wat die meeste rondtes voltooi het en die Cortina-span wat met die geesbeker weggestap het!
Dankie Sol-Tech, julle harte is beslis op die regte plek!