Christiaan Combrinck (20 jaar) van Pretoria is ’n student wat tans by Sol-Tech studeer om ’n meulmaker te word en hy dien ook op die Sol-Tech-studenteraad. Ons het tydens die inperking op ’n digitale platform by hom ingeloer en vir hom ’n paar vrae gevra.
Hy wou graag die volgende boodskap aan sy medestudente stuur:
Ek wens julle alle sterkte toe vir die res van die jaar. Onthou net, met die huidige situasie in ons land met betrekking tot Covid-19 moet ons sterk en standvastig staan en die beste maak van elke oomblik wat ons saam met ons familie of gesin is.
Vince Lombardi het gesê: “It’s not whether you get knocked down, it’s whether you get back up.” Ons gaan weer opstaan, en dan maak ons ons jaar by Sol-Tech suksesvol klaar.
“Moenie twyfel aan jou geloof nie, onthou weer die woorde van 1 Korintiërs 10:13: “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”
Christiaan het die volgende oor sy studies te sê: “Ek geniet my studies vreeslik baie, veral om met my hande te werk. Ek kan nie te lank voor ’n rekenaar stil sit nie.”
“Die lekkerste deel van my studies is wanneer ek ’n stuk staal kry wat ek kan omskakel in ’n stuk gereedskap wat ek dan vir die res van my lewe in my gereedskapkis kan bêre om self as ambagsman te gebruik.”
Nadat hy klaar studeer het wil hy graag ’n goeie werk kry en selfstandig wees. Hy droom daarvan om sy eie besigheid te begin en mense in diens te neem. Op so ’n manier wil hy graag werkloosheid help beëindig. “Ek wil graag vir jongmense dieselfde geleentheid bied as wat ek ontvang het.”
In sy vrye tyd bied hy sy dienste as mediese ondersteuningslid aan ’n privaat ambulansdiens en hy help ook graag as mediese ondersteuningslid by sportsbyeenkomste uit.