Sol-Tech het op 28 Oktober 2024, tydens ‘n funksie op sy kampus in Monumentpark, aangekondig dat haarkappery vanaf Februarie 2025 op die kampus aangebied gaan word.
Sol-Tech, met sy kernbesigheid in ambagsopleiding, is opgewonde om deur die vergroting van sy programaanbod nog meer geleenthede vir studente te skep. Saam met die Vroeë kinderjare-otwikkelingsprogram, wat Sol-Tech in 2024 suksesvol begin aanbied het, en drie IT-kwalifikasies is die verskeidenheid van opleidingsgeleenthede by Sol-Tech nog meer omvattend.
Die Haarkapperykwalifikasie is ‘n Beroepsertifikaat op ‘n NKR-vlak 4 en bestaan uit 540 krediete. Sol-Tech se suksesresep van werksplekgeïntegreerde leer word ook hier toegepas: Die totale opleidingstydperk is 36 maande, waarvan 18 maande geïntegreerde teorie en prakties op kampus is en ongeveer 18 maande werksplekgeïntegreerde leer by ’n goedgekeurde salon is.
“Die haarkapperkwalifikasie bied uitstekende geleenthede vir dames en mans om hulself in die besigheidswêreld te laat geld,” sê Paul van Deventer (besturende direkteur van Sol- Tech). Sol-Tech se kwalifikasie gaan dit vir studente moontlik maak om hul eie salon oop te maak, vir hulself te werk of om ‘n stoel (infrastruktuur) by ‘n ander salon te huur. “So bemagtig ons jongmense met uitstekende vaardighede vir ’n mark wat ’n blywende en gereelde behoefte het sodat hulle ’n kern diens in gemeenskappe lewer,” sê Van Deventer.
Sol-Tech se kwalifikasie is ontwikkel om uitstekend gekwalifiseerde haarstiliste aan die mark te voorsien, om sodoende te verseker dat hulle die hoogste gemiddelde salaris in die mark verdien (in vergelyking met ongekwalifiseerde stiliste).
Binne Suid-Afrika se populasie van meer as 60 miljoen mense, maak die gemiddelde mens elke drie maande van ‘n haarkapper se dienste gebruik. Buiten dat daar in die groot behoefte vir hierdie dienste voorsien gaan word, sal Sol-Tech die enigste instansie in Suid- Afrika wees wat die opleiding in Afrikaans bied.
Volgens Liesel van der Walt, departementshoof van dié kwalifikasie, is Sol-Tech se kwalifikasie spesifiek ontwikkel om die student kop en skouers bo die res te laat uitstaan. “Sol-Tech se program fokus daarop om studente as uitstekende, gekwalifiseerde haarstiliste te laat kwalifiseer. Besigheidsvaardighede vorm deel van die kwalifikasie, om studente toe te rus om ‘n salon winsgewend te kan bedryf,” meen Van der Walt.
Twee innames per jaar van 30 studente elk word beplan. Die opleidingsfasiliteite is toonaangewend en uiters stylvol ingerig om op so ‘n manier, met die intrapslag, ‘n blywende hoë standaard te stel.