Wat maak die jaarlikse Sol-Tech Vonkfees lekker? Is dit die swoeg en sweet aan die vooraf bou van die kaskarre; die kaskarwedren op die dag self; die kameraadskap en studentepret of die saamwerk vir ‘n goeie doel? Dis alles saam!
Vonkfees 2023 is op 6 September gehou, en die meeste mense is dit eens dat hierdie die lekkerste een nóg was. Dertien spanne van 25 studente per span het deelgeneem om met die gesogte titel as Vonkfees-wenner van 2023 weg te stap. Verder het tien spanne van tien studente aan die vermaak aktiwiteite deelgeneem. Op hierdié dag is studentepret en opwinding bo-aan die agendalys en die studente en personeel kon ook aan toutrek en netbal deelneem.
Ongeveer twee weke voor die tyd het die spanne met die beplanning en bou van die kaskarre begin. Elke span het ‘n begroting gekry waarmee die materiaal wat vir die bou van die kaskar nodig was aangekoop is.
Studente moes seker maak dat hul kaskar vaartbelyn is en maklik om die baan kon beweeg aangesien die span wat die meeste rondtes om die Sol-Tech-kampus gestoot het, wen. Maklik was dit nie, waar die studente aanvanklik fluks en vinnig weggetrek het, was die spanne teen die einde van die 60-minute heelwat stadiger en moes die toeskouers om die baan hulle harder aanmoedig.
Die oorspronklike doel met die Vonkfees (vrywillige ondersteuning van nood en kinders) was om ook ‘n gee-kultuur saam met die pret onder die studente te kweek. Hierdie jaar is daar vir die eerste keer besluit om die opbrengste van die dag vir ‘n instansie te skenk. Mielies (die geliefde Sol-Tech-skaaphond) was die inspirasie agter die keuse van Wollies Diereskuiling as liefdadigheidsinstansie. Studente en personeel kan gedurende September honde- en katkos (blikkies of sakke) en kontantbydraes vir die instansie skenk. Op hierdie manier poog Sol-Tech om Wollies se hande sterk te maak en hul rekening van ongeveer R30 000 by die Onderstepoort Veeartsenykundige Akademiese Hospitaal te help vereffen.
Nog ‘n belangrike fondsinsamelingskomponent is die verkoop van die kaskarre na afloop van die wedren. Personeel en studente kry eerste kans om ‘n bod in te sit, waarna dit ook aan die publiek opgestel gaan word. Daar is ook 6 lekker en groot pryse met ‘n R100 lootjie te wen waarvan die opbrengs ook aan Wollies geskenk sal word. Die lootjies is vir Sol-Tech personeel asook die publiek beskikbaar.