Die Sol-Tech Vonkfees is elke jaar ‘n hoogtepunt op die kalender. Dié fees bied nie net aan die studente die geleentheid om saam kaskarre te bou, resies te hardloop en te kuier nie; maar om die studente se omgeeharte op ‘n tasbare wyse te laat klop.
Daarom word die Vonkfees elke jaar aan ‘n liefdadigheidsprojek gekoppel. Volgens Francoise Noomé (studentesake koördineerder) het Sol-Tech hierdie jaar met Solidariteit Helpende Hand saamgewerk om fondse en benodighede vir hul bekende skooltassieprojek in te samel.
Studente, personeel en vriende van Sol-Tech kon gedurende September skryfbehoeftes of ‘n finansiële skenking tothierdie doel maak. Veertien pragtige kaskarre wat vir die Vonkfees gebou is, is ook tydens ‘n veiling ten bate van die projek opgeveil.
‘n Bedrag van R10 762,51 is ingesamel en op 31 Oktober aan Helpende Hand oorhandig. Drie borge, naamlik Waltons, Vuma en Spanjaard, het die inhoud vir 44 tassies geskenk.
Volgens Liani Louw (Helpende Hand Streeksorganiseerder) gaan opvoeding en geleenthede hand aan hand en daarom is dit van kardinale belang om jong leerders toe te rus met die nodige gereedskap vir hul akademiese reis. Helpende Hand sit sedert 2007 skooltassies in behoeftige graad een-leerders se hande. Deur hierdie projek te ondersteun, stel Sol-Tech se studente ook ‘n paar leerders in staat om hul akademiese reis op gelyke voet met hul skoolmaats te begin.