PHOTO 2024 12 08 09 45 30

Tien interessante feite oor die Sol-Tech brug

Die Sol-Tech brug is ‘n blywende simbool van veiligheid in Monumentpark. Hier is tien feite oor die brug waarvan jy dalk nie geweet het nie:

  • Dié vertoonstuk van ingenieursvernuf is die afgelope twee maande in die werkwinkels van NJW Ingenieurswerke in Rosslyn vervaardig.  
  • Streng Ingenieurskonsultante het die brug ontwerp en Jeremie Malan Argitekte het gehelp met die estetiese ontwerp van die brug.  
  • Kanton het die projek bestuur/gedryf en het weereens kapitaal en kultuur ten bate van Afrikaans bymekaargebring.
  • Die brug is oor die 40 m lank, strek oor al vier bane van Solomon Mahlangu Rylaan en bied veilige beweging tussen die Plaashuis (Sol-Tech se koshuis) en die kampus.  
  • Die totale gewig van die brug is 52 ton (die staal van die drie dele van die brug weeg 12 ton en die beton wat op die 2.5 m breë vloeroppervlak ingepomp is weeg 40 ton).
  • Die dak, sykante en vloer van die brug is vooraf vervaardig en in drie dele (ongeveer 13 m elk) na die kampus vervoer, en langs Solomon Mahlangu Rylaan staangemaak en daar aanmekaargesit.
  • Solomon Mahlangu Rylaan is Vrydagaand, 6 Desember, om 18:00 vir die publiek gesluit. Om 20:00 is die brug op sy voetstukke geplaas. Die oggend van 7 Desember, is daar binne ‘n uur 18 m³ beton ingepomp vir die loopvlak. Die pad was Sondagmiddag, 8 Desember, weer oopgestel vir verkeer.  
  • Die Vrydagaand is die brug in twee stukke met ‘n 160 ton kraan in minder as ‘n uur opgelig en op boute, op voetstukke, geplaas. Daar was slegs ruimte vir ‘n 3 mm-speling aan weerskante van die brug tydens dié fase.  Met uiterste presisie het die brug na die eerste poging perfek gepas.
  • Die brug is só ontwerp dat daar nie op enige stadium te veel mense op die brug kan wees wat te swaar is om enige risiko vir die brug in te hou nie.
  • Die kostes verbonde aan die brug alleenlik is nagenoeg R4.8 miljoen – tesame met die paadjie met elektriese heining, sekuriteit en alle opstellingskostes beloop die totaal ongeveer R6.5 miljoen.

Hierdie brug is weereens ‘n bewys dat daar met uitnemendheid gebou kan word – ter wille van die toekoms van ons kinders.

Nog nuus