ozwald

Sol-Tech se Ozwald eindig agste in seepkiskarwedren

Deur Philip Minnaar

‘n Seepkiskar met die naam Ozwald die Volstruis, gebou deur Sol-Tech, het agtste geëindig in Red Bull se seepkiskarwedren in Sandton.
Red Bull het op 16 September vanjaar dié wedren by Sandton City aangebied waartydens 71 deelnemers mekaar die stryd om die eerste plek aangesê het. Drie van die deelnemers, Eileen Engelbrecht, Alwyn Engelbrecht en Tiaan Engelbrecht, het Sol-Tech genader om hulle te help om hul seepkiskar te bou.
Die versoek het geklink na ’n lekker uitdaging én vet pret terselfdertyd, en Sol-Tech het as entoesiastiese medeborg aangemeld. As borg moes Sol-Tech die seepkiskar ontwerp en bou. Die span het ’n bouplan voorsien, maar dis gou duidelik dat ’n kar gebou uit dié planne nie die rit sou kon deurstaan nie. Die Sol-Tech-span moes kreatief en uit die boks dink om met iets op papier vorendag te kom wat ’n meesterstuk kon word.

Die staal, wiele en remme is voorsien, en die personeel en studente by Sol-Tech se sweisafdeling moes binne die beperkings van die hoeveelheid materiaal ’n ontwerp op papier stel wat die rit sou kon deurstaan. Nadat die plan voltooi was, het almal aan die werk gespring.
Een van die vereistes van die wedren was dat die karretjie met twee bestuurders aan boord sowat 20 meter voor die eindstreep oor ’n bult moes spring en heel moes bly wanneer dit die grond tref. Daarvoor was ’n goeie onderstel met ’n stewige veerstelsel nodig.

Die spanning het hoog geloop toe die wiele laat afgelewer is en dit wou lyk asof die sperdatum nie gehaal sou kon word nie. Daar is beplan, gebou, herontwerp en aanpassings gedoen totdat die bouers en die bestuurders tevrede met die eindproduk was.

Hierna moes die jaers saam met hul kernondersteuners die karretjie in ’n volstruis omtower sodat Ozwald die Volstruis vir die resies kon aanmeld.
Ozwald se agtste posisie uit die 71 inskrywings het die deelnemers en die Sol-Tech-span se hempsknope laat afspring van trots, en Sol-Tech se personeel en studente beplan nou reeds aan die seepkiskar wat volgende jaar gaan deelneem.

Sol-Tech se personeel wat betrokke was by die projek, is Nico Dreyer, Marthinus Snyders, Gerhard van Aswegen en Charl Grobbelaar. Die studente wat ingespring en gehelp het, was Reinu Potgieter, Jan-Abrahans Oberholzer, Morné Coertze, Jakes Brits en Hennie Engelbrecht.

Hierdie artikel is oorspronklik in die Solidariteit-tydskrif, 2018- uitgawe 6, gepubliseer.

Nog nuus