Woon die Sol-Tech-opedag by en neem die eerste tree na ‘n suksesvolle toekoms in ‘n inligtingstegnologie- of ambagrigting.
Op 23 en 24 Februarie bied Sol-Tech die eerste opedag vir 2024 op sy kampus in Monumentpark aan en dit beloof om ‘n eersteklas geleentheid te wees. Volgens Chantal Swart, bemarkingsbestuurder van Sol-Tech, is hierdie dag die ideale geleentheid om met Sol-Tech te kom kennis maak: “Kom stap deur die toonaangewende werkwinkels en kom gesels met die uiters bekwame lektore en kom BELEEF die studentelewe en lekker kampus. As jy enigsins in IT of ambagte belangstel, waarborg ons dat jou tone gaan krul van lekkerkry.”
Sol-Tech bied tans agt ambaggerigte kwalifikasies aan, naamlik vir elektrisiëns, dieselwerktuigkundiges, meulmakers, gereedskapmakers, passers-en-draaiers, megatroniese tegnikuste, outo-elektrisiëns (vervoer-elektrisiëns) en sweisers. Uitbreiding om nog meer beroepsopleidings- en ander rigtings aan te bied, word ook in die vooruitsig gestel.
Binne die IT-wêreld is daar ‘n reusetekort aan kundigheid en daarom bied Sol-Tech sedert 2023 ook drie CompTIA IT-kwalifikasies aan en verseker so dat nog meer jongmense indiensneembaar word. Die IT-kwalifikasies sluit die volgende in: Data en wolk, Kubersekuriteit en IT-ondersteuning en -netwerke. Studente studeer aanlyn en woon slegs ‘n verpligte week in die goed toegeruste laboratoriums op kampus by.
By Sol-Tech word die klem op die studente se persoonlike én akademiese ontwikkeling geplaas. Hardwerkende studente van karakter, met Christelike waardes wat ʼn bydrae tot die samelewing kan maak, word op kampus ontwikkel. Hier kry studente soveel meer as net ambagsopleiding, met unieke tradisies, ʼn eie kultuur en studenteaktiwiteite.
Sol-Tech se wêreldklaskampus in Monumentpark is ryk aan simboliek en nou verweef met die ryke geskiedenis van ambagslui in Suid-Afrika. Hier ontvang studente die unieke geleentheid om vanuit hierdie erfenis die toekoms vol afwagting tegemoet te gaan.
Indien jy ‘n ambag- of IT-kwalifikasie oorweeg, is Sol-Tech die plek vir jou. Hiér sal jy ‘n eersteklas kwalifikasie verwerf, wat jou indiensneembaar maak en jou toekoms verseker. Kom woon die opedag by en beleef dit self!
Bespreek gerus jou plek hier