Kraal

Plaastoer: Die hartklop van die Kraal

Die bekende gesegde lui dat ‘n man se hart deur sy maag loop. In Sol-Tech taal gestel: Die hartklop van die studentelewe loop deur die Kraal (die kafeteria op kampus).

Reeds tydens die beplanningsfase van die nuwe Sol-Tech-kampus, waarvan die Kraal deel is, is daar gedroom van ‘n multifunksionele eetarea waar studente en personeel by lang tafels en gemaklike sitplekke kan sit en kuier en ook studeer. Hierdie konsep is deur Sol-Tech se besturende direkteur, Paul van Deventer, tydens ‘n besoek aan tersiêre instellings in die buiteland gesien en daarna vir Sol-Tech pasgemaak. Met die glasvensters reg rondom en prente van onder andere ‘n windpomp, koring en mielies op die lande en plaasdiere word ‘n bekende plaas gevoel geskep wat uitstekend by die res van die kampus inpas.

Stap jy op enige gegewe tyd in die Kraal, sien jy min of meer die volgende prentjie: Studente wat by die lang tafels sit en smul aan Spys (die spysenieringsdienste op kampus) se lekker kos; groepies wat in die hoek koppe-gebuig-oor-boeke sit en hard studeer; vriende wat op die gemaklike banke sit en skerts oor hoe hul dag sover loop; tafels waar elektriese drade en -toestelle uitgepak word en  waarop geoefen word en personeel wat met ‘n koffie in die hand sit vir middagete of  ‘n vergadering. Dié ruimte leen hom uitstekend toe vir ‘n leer- en sosiale omgewing.

Volgens Spys se uitvoerende hoof, Wille van der Walt, is die kwartie (kwart hoender) en die BH-kombo (hamburger met skyfies en ‘n koeldrank) van die gewildste etes op die kampus. Teetyd (tussen 09:00-10:00) en middagete is ook hul besigste tye van die dag en is dan gewoonlik ‘n miernes van gebeure en bestellings. Tradisionele kos in die vorm van gesonde etes van die dag, gemeng met ‘n paar meer moderne disse, bied iets vir almal. Niks kom by Spys se heerlike hoenderschnitzel nie! Die studente (en personeel) staan ook tou vir die heerlike draairoomyse.

By dag ‘n miernes van bedrywighede en studente, en teen die aand opgetof in die mooiste liggies en gedekte tafels. Menigte skole en organisasies se matriekafskeide, fondsinsamelings en jaareindfunksies word keurig hier gehou. ‘n Menigte kunstenaars soos Jo Black; Jan-Jan-Jan; Bok van Blerk; Robbie Wessels en Bernice West het ook al hier opgetree. Daar was selfs al ‘n spoggerige troue of drie!

Of jy net vinnig kom om ‘n blaaskans te neem en of jy sit en eet en kuier. Die Kraal is die plek vir jou!

Nog nuus