Die eerste haarkappery-studente is waarskynlik al besig om hul skêre en ander toerusting vir die innamedag van 18 Februarie 2025 gereed te kry.
Sol-Tech se kraakvars haarkappery-kwalifikasie word vir die eerste keer vanaf Februarie aangebied en daar heers groot opwinding onder beide die voornemende studente én die lektore. Dit volg nadat Sol-Tech op 28 Oktober 2024 aangekondig het dat haarkappery voortaan deel van die programaanbod vorm.
Johané Beyers is amptelik die eerste student wat vir dié kwalifikasie aansoek gedoen, suksesvol gekeur en geregistreer is. Johané het in 2021 aan Hoërskool Harrismith in die Oos-Vrystaat gematrikuleer.
Johané vertel dat sy al vir ‘n geruime tyd na die geskikte instansie gesoek het om ‘n kursus in haarkappery te volg. Sy het op sosiale media eendag ‘n advertensie van Sol-Tech raakgesien. “Ek het dadelik geweet dat dit die instansie is waarby ek my kursus sal wil voltooi.”
Op die vraag oor van wanneer af sy in haarkappery belangstel, antwoord sy dat sy reeds vroeg in haar hoërskoolloopbaan met haarstilering begin eksperimenteer het. “Ek het dit geniet om van my klasmaats se hare in die oggende voor skool mooi te maak, en ook vir spesiale geleenthede. Ek het vinnig agtergekom dat haarkappery beslis ʼn loopbaan is wat ek in die toekoms sal wil volg.”
Hoe lyk haar toekomsdroom? “My toekomsdroom, na die voltooiing van my studies, is om een-dag my eie suksesvolle salon te hê waarin ek my passie vir haarkappery sal kan uitleef.” Sy wil graag ‘n unieke ervaring in terme van diens, gehalte, luuksheid en kennis aan haar kliënte bied.
Die Haarkapperykwalifikasie is ‘n Beroepsertifikaat op ‘n NKR-vlak 4 en bestaan uit 540 krediete. Sol-Tech se suksesresep van werksplekgeïntegreerde leer word ook hier toegepas: Die totale opleidingstydperk is 36 maande, waarvan 18 maande geïntegreerde teorie en prakties op kampus is en ongeveer 18 maande werksplekgeïntegreerde leer by ’n goedgekeurde salon is.
Daar is opwindende nuus! Solidariteit bied aan elke student wat tot en met die 11de Februarie 2025 vir die eerste inname van die kwalifikasie aansoek doen, ‘n beurs van R60 000 wat van hulle studiegeld afgetrek word. Dit is ‘n ongelooflike geleentheid! Doen nou aansoek, jy kan jou studies dan op 18 Februarie 2025 afskop! Die opleidingsfasiliteite op kampus is toonaangewend en uiters stylvol ingerig om op so ‘n manier, met die intrapslag, ‘n blywende hoë standaard te stel. So maak seker dat jy vandag nog aansoek doen!