DSF0559

Eerste VKO-studente spring speel-speel weg

Die eerste groep Sol-Tech Vroeëkinderjare Ontwikkeling (VKO-)studente het amptelik op 26 Junie 2024 met hul studies begin.

Die agt dames (tussen die ouderdomme van 19-35 jaar) kom uit verskeie dele van die land, maar vanuit die staanspoor is dit duidelik dat hul liefde en passie vir kinders ‘n hegte band tussen hulle snoer. Voeg daarby die passie van die lektor, Melané van den Berg, vir die ontwikkeling van jong kinders, en jy het ‘n wenkombinasie. Hiér gaan hard gewerk, gelag, gepraat en geleer word.

Sol-Tech het in Mei aangekondig dat sy VKO-kwalifikasie goedgekeur is en daarmee die wiele aan die rol gesit om die eerste studente in Junie in te neem. Dié VKO-kwalifikasie is spesifiek gemik op skoolverlaters wat in ’n kleuterskool werksaam wil wees; individue wat reeds in ’n kleuterskool werk maar ’n formele kwalifikasie wil verkry; au-pairs; kinderoppassers; dagmoeders en tuisskoolmammas wat met 0 – 5 jarige kinders werk. Dit is ook so te sien in die groep wat pas begin het aangesien elkeen van hulle reeds in ‘n kleuterskoolomgewing werksaam is.

Volgens Michelle Verhoef (kleuterskoolassistent vir 2-3 jariges) is sy opgewonde om die kwalifikasie te verwerf en so die kinders in haar klas nog beter te kan bystaan. “Sol-Tech se model maak dit vir my moontlik om die teorie wat ek die middag leer, die volgende dag in my klassie te kan toepas. Die teoretiese onderbou gaan hande en voete in die klas kry.”

Oor die volgende twaalf maande gaan aspekte soos voeding, gesondheid, ouderdomspesifieke aktiwiteite, deernis en toegeneentheid, sosiale interaksie asook leer geleenthede, word as deel van die kwalifikasie gedek. Studente kan uitsien na 6 maande se teoretiese onderrig op kampus waartydens toegepaste praktiese waarneming gelyktydig by ‘n kleuterskool plaasvind. Hierna vind werksgeïntegreerde leer vir 3-6 maande by ‘n kleuterskool plaas.

Anke van Niekerk sê sy geniet die program sover vreeslik baie en veral die kampus is lekker om te leer ken. “Ek het darem al vir Mielies, die kampushond, ontmoet maar soek nog na Sol en Tech (die hoenders) om die volledige Sol-Tech plaas ervaring te kry.”

Die groep studente werk dalk met klein voetjies en handjies, maar die impak van hul onderrig gaan diep en blywende spore trap.

Nog nuus