Leer kampus ken Standbeeld (P)

Plaastoer: Ons Bou-standbeeld

Die Sol-Tech-kampus is ryk aan simboliek en herinner aan ‘n plaashuis van ouds. Kom saam op ‘n plaastoer en leer die kampus ken.

Die Ons Bou-standbeeld staan in die Werf (die bymekaarkomplek vir die studente) en vorm ‘n baken van hoop wat ‘n sterk boodskap aan die studente, personeel en ouers uitstuur.

Die kunswerk is deur die gedig van NP Van Wyk Louw getiteld “Die Beiteltjie” geïnspireer.

ʼn Paar brons hande is op drie granietkolomme geset. Met hamer en beitel word in geloof  ʼn toekoms vir Gemeenskap, Taal en Kultuur uitgebeitel.

Die hande is grof, onafgerond en ferm – ambagshande wat ken van hard werk. Hulle werk nie net vir hulleself nie, maar bou voort op wat hulle ontvang het, vir dié wat ná hulle kom.

Hierdie drie steunpilare is van die oorspronklike graniet waarmee die Voortrekkermonument gebou is – met ambagshande vir Afrikaans.

Die rots is in 2020 op die Sol-Tech-kampus uitgegrawe en is simbolies van die Rots waarop ons ons instellings bou.

Net soos die boustene van hierdie majestueuse Monument, hou hierdie stukke Afrika-aarde ons steeds geborge en gegrond.

Dit is dan geen wonder dat elke student tydens hul promoveringsplegtigheid by die besonderse beeld ‘n foto neem. Dit versinnebeeld die feit dat hul self verantwoordelikheid vir hul toekoms vat en saam bou, ook vir die nageslag.

DIE BEITELTJIE

NP Van Wyk Louw (1906 – 1970)

Ek kry ‘n klein klein beiteltjie,

ek tik hom en hy klink;

toe slyp ek en ek slyp hom

totdat hy klink en blink.

Ek sit ‘n klippie op ‘n rots:

– mens moet jou vergewis:

‘n beitel moet kan klip breek 

as hy ‘n beitel is – 

ek slaat hom met my beiteltjie

en dié was sterk genoeg:

daar spring die klippie stukkend

so skoon soos langs ‘n voeg:

toe, onder my tien vingers bars

die grys rots middeldeur

en langs my voete voel ek 

die sagte aarde skeur,

die donker naat loop deur my land

en kloof hom wortel toe – 

só moet ‘n beitel slaan

wat beitel is, of hoé?

Dan, met twee goue afgronde

val die planeet aan twee

en oor die kranse, kokend,

verdwyn die vlak groen see

en op die dag sien ek die nag

daar anderkant gaan oop

met ‘n bars wat van my beitel af

dwarsdeur die sterre loop.

Die beeld is as simbool van die inwyding van die Sol-Tech-kampus op 26 Maart 2021 onthul deur Flip Buys, dr Dirk Hermann, Marthinus Visser, Henk Schalekamp en Paul van Deventer.

Beeldhouer: Jacques Müller (2021)

Nog nuus