Sol-Tech se eerste promoveringsplegtigheid vir 2023, het Donderdag 16 Februarie op kampus plaasgevind. Soos met die vorige geleenthede was dit weereens ‘n spoggeleentheid en het die groep studente, wat nou na die volgende fase van hul opleiding vorder en met oë wat eweneens geblink het, geskitter in die verskillende fakulteite se togas en kleurbande.
Volgens Hendri Bruyns, 2022 SR Ondervoorsitter, was dit klippe kou tot hier, maar is elke student baie dankbaar en waardeer die moeite, voorbereiding en die ekstra myl wat deur die personeel vir hulle geloop is. Volgens hom het die lektore ‘n geweldige invloed op elkeen se loopbaan en persoonlike lewe gehad; of dit nou teorie of praktiese klasse was wat hulle aangebied het of lewens raad wat uitgedeel is.
Die afgelope aantal maande was nie maklik nie, maar is elkeen dankbaar dat dit verby is en sien hul uit daarna om hul vakleerlingskappe te gaan voltooi.
By Donderdagmiddag se glansgeleentheid het Sol-Tech die eer gehad om aan 74 studente, bestaande uit Meulmakers, Elektries- en Gereedskapmaker-studente, die erkenning vir hul deursettingvermoë te gee en hul voorspoed op die pad vorentoe te wens.