Sol-Tech en Kanton het op 23 Februarie 2024 amptelik die koshuis vir Sol-Tech-studente op die bouperseel in Monumentpark in Pretoria bekendgestel. Hierdie bouprojek van sowat R155 miljoen is in ‘n gevorderde fase en sal opleiding by Sol-Tech vir voornemende studente van regoor Suid-Afrika nog meer toeganklik maak. Die ontwikkeling word deur Kanton Beleggings gedoen.
Die bou van die koshuis volg nadat die wêreldklas Sol-Tech-kampus, ook deur Kanton ontwikkel, in 2021 in gebruik geneem is en sedertdien gehalte ambag- en IT-studente aan die industrie lewer.
Volgens Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, plaas die bied van eie verblyf Sol-Tech op ‘n volgende vlak. “Sol-Tech se doel was nog altyd om ‘n blink toekoms vir jongmense in Suid-Afrika te skep. Met die bou van ons eie koshuis, die Plaashuis, word ons wêreldklasopleiding nog meer toeganklik vir mense van regoor die land.”
Die Plaashuis bied aan studente die geleentheid om gehalte opleiding te kry terwyl hulle in ‘n veilige omgewing kan woon, reg langs die kampus. “Sol-Tech is een van slegs ‘n handjievol beroepsopleidingkolleges in Suid-Afrika wat ‘n totale studente-ervaring aan studente bied. Studente van heinde en verre gaan hier kan tuis voel en aan unieke, gesonde studenteaktiwiteite deelneem,” sê Van Deventer.
Die 400-bed koshuis gaan met ‘n veilige oorstapbrug aan die kampus verbind word. Die eerste studente gaan vanaf Oktober 2024 die ruim deelkamers kan beset.
Volgens Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton, is Kanton baie opgewonde oor die projek. Kanton werf kapitaal en ontwikkel eiendomme om gemeenskapsinstellings, soos Sol-Tech, met die nodige fasiliteite te voorsien.
“Die stene wat reeds gelê is, is sprekend van die vennootskap tussen kultuur en kapitaal wat Kanton besig is om te smee. Kanton maak tans planne om aan die gemeenskap die geleentheid te bied om deur beleggings betrokke te raak. Die Sol-Tech-kampus en hierdie Plaashuis is die eerste tekens van die leefruimtes wat Kanton besig is om te skep,” sê Schalekamp.
Met die beplanning en ontwerp van die koshuis was dit belangrik om ‘n ruimte te skep waar studente werklik tuis kan voel, en ook die nodige infrastruktuur vir persoonlike ontwikkeling daar te stel. Jeremie Malan Argitekte het daarin geslaag om ʼn tipies Suid-Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse ontwerpstyl te gebruik, net soos op die Sol-Tech-plaas (soos daar dikwels na die kampus verwys word).
’n Plaashuis uit die vroeë dae herinner onmiddellik aan die gasvryheid en hartlikheid waarmee mense op ‘n plaas verwelkom is en beklemtoon die belangrikheid van familie, vriende en gemeenskap. Die ryk erfenis en tradisies van ‘n tradisionele plaashuis simboliseer die oordrag van waardes van geslag tot geslag. Dit gaan studente hiér sien en ervaar.
“Die simboliese waardes wat Sol-Tech aan ‘n plaashuis van ouds heg, maak ons koshuis meer as net ‘n struktuur. Die Plaashuis is diep gewortel in ‘n leefwyse en waardesisteem wat vir ons bekend is. Dit voel tuis,” sê Van Deventer.
Ruim deelkamers, ‘n swembad, buitelug gimnasium, eetsaal met wegneemetes, rekreasie- en ontspanningsarea, braaigeriewe, bomas en sportvelde vorm alles deel van die ontwikkeling waarna studente kan uitsien.
Die funksie is deur lede van die publiek en verskeie hoofde van instansies bygewoon en het ‘n kampustoer ingesluit.