Sol-Tech IT ontvang internasionale toekenning

Sol-Tech is op 12 Oktober 2023 tydens CompTIA (the Computing Technology Industry Association) se Africa Awards 2023 met die toekenning as die beste nuweling van die jaar gekroon.

Die internasionaal erkende CompTIA het tydens die tweejaarlikse spoggeleentheid by Monte Casino erkenning aan verskeie opleidingsvennote regoor Afrika vir vaardigheidsontwikkeling en hul verskeie bydraes tot die opleidingsinstansie gegee. 

Volgens Paul van Deventer (besturende direkteur van Sol-Tech) is Sol-Tech geweldig trots op hierdie toekenning. “Sol-Tech het in Januarie 2023 aangekondig dat ons die groot stap neem om die inligtingstegnologieveld te betree en so ons programaanbod van hoofsaaklik ambaggerigte kwalifikasies uit te brei. Die eerste studente het in April weggespring en die eerste student het pas einde September sy kwalifikasie voltooi. 73 studente het sedertdien met hul kwalifikasies begin.”

Dit was vanuit die staanspoor vir Sol-Tech belangrik dat die IT-studente ook dieselfde gehalte opleiding ontvang waarvoor Sol-Tech vir sy ambagopleiding bekend geraak het.

In ‘n relatief kort tyd is daar rekenaarlaboratorium ingerig, uitstekende personeel aangestel, en die aanlyn leerplatform is in plek gekry saam met die nodige administratiewe stelsels.  “Hierdie toekenning beaam dat ons op die regte pad is en dat ons ook op die IT-terrein studente kan lewer wat puik vir die IT-industrie voorberei is,” het Van Deventer gesê.

Sol-Tech het spesifiek op CompTIA as opleidingsvennoot besluit aangesien dié opleidingsinstansie internasionale erkenning geniet en hoog in die industrie geag word. Só word studente verseker van uitstekende onderrig. Programme wat op drie areas fokus, naamlik data-en wolk, IT-ondersteuning en -netwerke en kubersekuriteit word tans aangebied. Studente studeer aanlyn teen eie pas en tempo, met fasiliteerders wat ondersteuning bied.

Deurlopende innames verseker maklike toegang tot studies. ‘n Verpligte blokweek, in die goed toegeruste laboratorium op die Sol-Tech-kampus in Monumentpark, bied geleentheid om vaardighede prakties in te oefen. Sagte vaardigheidsontwikkeling geniet ook aandag. Sol-Tech verseker verder ook ’n voorsprong vir studente deur ontluikende tegnologie, SQL basiese beginsels asook Python basiese beginsels deel van die program te maak, afhangende van watter program gekies word. Daarbenewens kan studente ook uit 15 individuele CompTIA sertifiserings kies (bv. A+, N+, Security+) asook eksamenkoepons aankoop om hul bestaande sertifiserings te hernu. Sol-Tech bied IT-fasiliteerderdienste om studente by te staan met hul studies en dit boonop in Afrikaans.

Nog nuus