Sol-Tech rugbyspan dra wen aan oorlede vriend op

Op Saterdag 26 Augustus het die Sol-Tech-rugbyspan tydens die Jozi 10-toernooi met een doel voor oë op die veld uitgedraf: Om die wedstryd aan hul groot vriend en klasmaat, wyle JD van den Berg, op te dra. 

JD (Grens) was ‘n meulmaker-student by Sol-Tech en is op 30 Junie 2023 in ‘n tragiese motorongeluk oorlede. Sy vriende vertel graag dat Grens veral twee liefdes gehad het, naamlik kitaarspeel en rugby. Dit was dan ook hy wat deelname aan die Jozi 10-toernooi gedryf het en hy het die rugbytrui ontwerp. Sy liefde vir onder andere kitaar speel was so groot dat daar tydens sy begrafnis ook ‘n kitaar in die kerk uitgestal is. 

Vra jy sy vriende en klasmaats dan antwoord almal onomwonde dat die gemis na hul vriend groot is en die leemte wat hy laat nie gevul kan word nie. Daarom dat hulle besluit het om as rugbyspan die wedstryd aan Grens op te dra en was hy die motivering vir die manne wat die afgelope Saterdag alles ingesit het om JD se nagedagtenis te eer. En hoe gepas was dit dan nie dat dié span Saterdag as wenner van die sosiale beker weggestap het nie.

Groot was hulle verbasing toe die prys wat hulle as wenners van die sosiale beker ontvang het, waarlik ‘n kitaar is. 

JD, alhoewel jy nie meer hier is nie, kan die klanke van jou lewe nog steeds gehoor word en sal dit voortleef met elke tokkel wat ons op dié besonderse kitaar gee.

Nog nuus