Stephen Sutherland is ‘n meulmaker-student by Sol-Tech wat op die skietbaan sy visier instel en kolskoot kan skiet.
Stephen doen dit boonop oor ‘n afstand van tussen 300 – 900 m.
Stephen het onlangs tydens die Suid-Afrikaanse en Wêreldkampioenskappe in Bloemfontein uiters goed in die langafstand Bisly- skiet (FTR) item gevaar. Tydens die item begin hulle om op 300 m aan te lê en eindig dan op 900 m.
Volgens Stephen is dit ‘n uiters tegniese sport wat vaardigheid en konsentrasie van die skut vereis en maak dat geen skoot soos die vorige een is nie. Veranderende weersomstandighede soos die wind, ligweerkaatsing, wolke wat oorbeweeg, reën ens. is alles faktore wat op die ver afstande in ag geneem moet word. ‘n Verdere belangrike komponent is om die regte geweer te hê – iets waaraan deelnemers van die sport baie geld, tyd en kundigheid spandeer.
Stephen hou van jongs af van jag en het net voor die Covid-19 inperking ‘n liefde vir die langafstand-skiet begin ontwikkel. Dit is veral die kameraadskap en buite in die natuur wees wat die sport vir hom so lekker maak.
Die kampioenskappe in Bloemfontein het 131 skuts vanuit lande soos Amerika, Kanada, Engeland, Duitsland en Italië verwelkom. Al het hy teen heelwat ouer skuts meegeding,
het Stephen met ‘n 51 ste plek uit die 131 skuts geëindig.
Tydens die SA-kampioenskappe van 20-25 Maart behaal hy die volgende prestasies:
0/25 algeheel eerste, goue medalje.
Tydens die Wêreldkampioenskappe van 27 Maart-1 April behaal hy vier medaljes:
0/25 dag 1, 900 m goud
0/25 dag 2, 700 m en 800 m goud, hy behaal ‘n algehele eerste plek in die 700 m en eindig ook algeheel eerste op die dag.
As student by Sol-Tech geniet hy sy studies baie en strewe hy daarna om ‘n balans te handhaaf tussen sy oefening en akademiese verpligtinge. In die spesifieke fase waarin hy is moet hy studies eerste stel.
Die kranige skut stel sy visier daarop om tydens die 2026 wêreldkampioenskappe onder die top 10 in die 0/25 kategorie te eindig. Baie sterkte Stephen!