DSF7910 Aangepas

VKO-program nou moontlik vir werkendes en skoolverlaters

Sol-Tech bied sedert middel 2024 sy Vroeëkinderjare Ontwikkeling (VKO)-kwalifikasie aan, met die eerste vyf studente wat in Oktober na die indiensopleidingfase van hul studies gepromoveer het.

Sol-Tech het op 7 Mei 2024 sy VKO-kwalifikasie tydens ‘n funksie by sy kampus in Monumentpark bekendgestel en aangekondig dat sy loodsprogram einde Junie 2024 wegspring.

Volgens Liesel van der Walt (Departementshoof: Nie-tegniese beroepskwalifikasies) is daar op grond van terugvoer wat tydens die loodsprogram ontvang is, sekere aanpassings aan die program gemaak. “Met die oog op die strewe na uitnemendheid gaan die VKO-klasse vanaf 2025 gedurende die dag, asook die middag aangebied word, om beide skoolverlaters en werkendes te akkommodeer.”

Die onderrigmodel van dié kwalifikasie (op NKR-vlak 4) bied aan studente deur die omgekeerde klaskamermetode geleentheid om tuisstudie te doen en kontaksessies in die oggende of middae op Sol-Tech se kampus by te woon. Werkplekgeïntegreerde-leer vorm ‘n belangrike komponent van die kwalifikasie.

Die intreevlak-kwalifikasie bekwaam studente om met babas, peuters en kleuters (0-5 jaar) te werk. Dié kwalifikasie is spesifiek gemik op skoolverlaters wat in ’n pre-primêre skool werksaam wil wees; individue wat reeds in ’n kleuterskool werk maar ’n formele kwalifikasie wil verkry; au-pairs; kinderoppassers; dagmoeders en tuisskoolmammas wat met 0 – 5 jarige kinders werk.

Volgens Clarize Taljaard, een van die eerste studente, was die afgelope ses maande ‘n ongelooflike avontuur wat sy nooit sal vergeet nie. “Juffrou Melané (die vakkundige) se ongelooflike kennis en die vermoë om dit interessant en verstaanbaar oor te dra, was ongelooflik. Juffrou se passie inspireer my om die beste weergawe van myself te wees!” Volgens Clarize sal sy enige iemand wat in vroeëkinderjare ontwikkeling belangstel aanmoedig om die kwalifikasie te doen.

Sol-Tech is die enigste instansie in Suid-Afrika wat hierdie kwalifikasie in Afrikaans aanbied. Die kwalifikasie duur ongeveer 12 maande. Benewens die teoretiese onderbou plaas die kwalifikasie sterk klem op die praktiese toepassing en daarom het Sol-Tech gehou by die suksesresep wat sy ambagstudente so gesog maak, naamlik dat die teorie, toepassing en werksplekervaring hand aan hand moet loop. Studente kan uitsien na 9 maande se teoretiese onderrig op kampus waartydens toegepaste praktiese waarneming gelyktydig by ‘n kleuterskool plaasvind. Hierna vind werksgeïntegreerde leer vir 3-6 maande by ‘n kleuterskool plaas.

Nog nuus