Op 16 April 2025 het Sol-Tech, tydens ‘n inhuldigingsseremonie, sy nuwe studente amptelik deel van die Sol-Tech-familie gemaak.
Die seremonie was die eerste van sy soort en is by die Voortrekkermonument gehou.
Met ‘n unieke Sol-Tech-pet in die hand en ‘n kanon wat seremonieël afgevuur is, is die volgende generasie ambagslui deur ‘n nuwe tradisie ingehuldig. Elke nuwe student (Sol-Tech het verskeie innames per jaar) sal voortaan tydens so ‘n funksie ingehuldig word.
Die Sol-Tech prestasie pet is ‘n seremoniële pet wat slegs tydens sekere geleenthede gedra word. Studente kan kentekens verwerf wat verteenwoordigend is van akademiese vordering, prestasie en deelname op verskeie terreine. Die kentekens word op die pet aangebring.
Sommige kentekens word toegeken soos studente vorder van een fase na die volgende. Vir ander moet ‘n student genomineer word om in aanmerking voor te kom. Op hierdie wyse word studente aangemoedig om deel van Sol-Tech se unieke studentelewe te vorm en word so ook beloon vir hul deelname.
Studente kan met trots die pet ná afloop van hul studies uitstal en so herinner word aan sy/haar tyd van student wees.