Op 3 Maart 2022 het ’n groep van 75 dieselwerktuigkunde-, meulmaker- en elektries-studente by ‘nglansgeleentheid na die volgende fase van hul opleiding promoveer.
Volgens Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, is Sol-Tech geseënd met soveel hoogtepunte gedurende die afgelope 15 jaar, waarvan die onlangse ingebruikneming van die nuwe wêreldklaskampus en die ongekende belangstelling in Sol-Tech se opleiding by verre die grootste is.
“Sol-Tech se sukses word egter nie aan ’n mooi nuwe kampus of groot studentegetalle gemeet nie, maar eerder aan die sukses van elkeen van ons studente. Jy wat – nadat jy hier op die Sol-Tech-plaas was – uitgaan, jou drome verwesenlik en verder aan jou toekoms bou,” het Van Deventer tydens die funksie gesê.
Sol-Tech se opleidingsmodel bestaan uit drie fases, naamlik teorie, praktiese opleiding in die werkwinkels, en indiensopleiding by ‘ngoedgekeurde werkgewer. Tydens die promoveringsplegtigheid is daar erkenning gegee aan studente wat hul praktiese opleiding by Sol-Tech suksesvol voltooi het en eersdaags met hul indiensopleiding by ’n goedgekeurde werkgewer gaan begin.
Dié 75 studente is die eerste groep wat die geleentheid vir ’n promoveringsfunksie op die nuwe kampus gekry het, aangesien Covid-maatreëls so ’n funksie in 2021 onmoontlik gemaak het. Die groep studente is verder ook uniek aangesien hulle die enigste groep is wat met hul opleiding by die ou-kampus in Kirkney begin het, die trek na die nuwe kampus meegemaak het en hul studies op Sol-Tech se nuwe kampus afgehandel het.
Gert Victor is as die top dieselfwerktuigkunde-student aangewys en Rudolf Badenhorst was die beste elektries-student, terwyl Jacques Kleynhans en Marnitz Ellis as die toppresteerders vir die meulmaker-beroepskwalifikasie aangewys is.
“Mag jy daar waar jy gaan, altyd die woorde van die Sol-Tech-roepstem onthou: ‘In Sy almag, is geloof my krag, môre begin vandag!’,” het Van Deventer die studente toegewens.
Vir enige verdere navrae:
Yolandi Collins
Operasionale bestuurder
076 1289049