Sol-Tech-studente geniet Nampo

Op 15 Mei 2024 het 80 Sol-Tech-studente en -lektore die langpad na die 56ste Nampo Oesfees naby Bothaville in die Vrystaat aangepak.

Maar, nie eers die ongeveer vier ure in die bus kon die studente se opgewondenheid blus nie. Nampo is immers een van die grootste privaat georganiseerde uitstallings ter wêreld en die grootste handelskou van landboumasjinerie en vee in die Suidelike Halfrond. Geen wonder dat dié landbouskou so reg in die Sol-Tech-studente se kraal pas nie.

Die tema van vanjaar se Nampo is “landbou in ‘n digitale era” en dit was voorwaar ‘n leerskool om die verskeie uitstallers se interpretasie daarvan te sien. Elke student het ‘n pakkie by die CLAAS-stalletjie ontvang en het vandaar af die terrein gaan verken. Met meer as 865 uitstallers is dit uit die aard van die saak haas onmoontlik om by elke stalletjie te draai, maar was dit steeds lekker om met verskeie werkgewers in kontak te kom en om ‘n blykie van die kreatiwiteit en innovasie van die uitstallers te sien. ‘n Boer maak beslis in moeilike omstandighede ‘n plan, en dié planne is goed ten toon gestel.

By Sol-Tech se stalletjie in die Nampo-saal is daar oudergewoonte “stapstokke” uitgedeel en kon jonk en oud kom inloer om meer oor Sol-Tech se kwalifikasies te wete te kom.

Nampo is die ideale plek vir die studente, en die werkgewers by wie studente indiensopleiding gaan doen, om in kontak te kom. Vir elke toekomstige dieselwerktuigkundige, meulmaker, elektrisiën, megatroniese tegnikus, passer-en-draaier, gereedskapmaker, sweiser en vervoer-elektrisiën was daar iets om te sien. Ajani (Sol-Tech se privaat plasingsmaatskappy) het ook ‘n groot rol gespeel om met nuwe werkgewers wat van Sol-Tech se studente in diens wil neem kontak te maak en verskeie gesprekke te fasiliteer.

Met byna 82 000 besoekers wat die skou gedurende 2023 bygewoon het en alle vooruitskattings wat daarop wys dat 2024 se skou nog groter gaan wees was dit reeds op die tweede dag van die skou ‘n miernes van bedrywighede. ‘n Geraamde 25 505 besoekers het die Woesndag bygewoon en 91 vastevlerkvliegtuie asook 21 helikopters is op die landingstrook geakkommodeer. Die lugruim was baie bedrywig en op sekere tye het vliegtuie skaars 20 sekondes uitmekaar geland! (Farmer’s Weekly SA-Facebook).

Met skape wat blêr, kolossale beeste wat op skou staan, ry op ry enorme implemente en masjinerie om te bewonder, 4×4’s wat hindernisbane aandurf, mense wat groot CFAM-sakke tjips rondkarwei, die geur van jaffels, mieliepap en vleis wat jou honger maak en die ongelooflike wete dat ons trots Suid-Afrikaans is, is Nampo 2024 vir ons studente op ‘n hoë noot afgesluit.

Nog nuus