francois12

Groot projek wink in VSA

Francois van der Merwe is geen onbekende op die Sol-Tech-kampus nie. Dié student het diep spore by Sol-Tech getrap en sy legende leef vandag nog voort. Francois is ‘n 21M02-inname Meulmakerstudent wat tans met sy indiensopleiding besig is. Hy was ook in 2022 die studenteraad se voorsitter.

Ons het by hom gaan inloer om te hoor hoe dit gaan en waarmee hy besig is.

Die afspraak om te gesels word per Whatsapp gemaak, want Francois sit in Amerika. Die tydverskil is astronomies en ons reël om 17:00 (Suid-Afrikaanse tyd) tydens sy middagete te gesels.

Met die intrapslag kom mens agter dit is steeds die bekende Franna. Geen aksent nie.

Sedert Francois in 2022 na die indiensopleidingsfase van sy studies gepromoveer het, het hy by die Design Groep vir sy indiensopleiding aangesluit. Die Design Groep is ‘n toonaangewende wêreldwye verskaffer van sleuteloplossings vir die motorbedryf, met ingenieurs-, vervaardigings- en ondersteuningsfasiliteite wat wêreldwyd geleë is. Design se primêre gebied van kundigheid lê in “Body-in-White” (samestel van ‘n voertuig se bakwerk/romp) en Monteringsgereedskap, waar hulle produksielyne bou. Design het in Junie 2023 hulle hoofkantoor in Amerika in New Hudson na Michigan verskuif. Die 153,000 m fasiliteite is ‘n ingenieurskantoor en groot bouperseel.

“Met my uitplasing in November 2022 het ek myself by Design se tak te Amanzimtoti vir indiensopleiding bevind. Daar moes ons ‘n kursus bywoon om opgelei te word in al die handelsmerke soos Ford, BMW , Toyota en Volkswagen se standaard operasionele prosedures te leer, hoe als werk,” vertel Francois.

Die eerste departement waar hy werksaam was, is metrologie. Metrologie is die wetenskaplike studie van meting. Hy was 4 weke daar en moes basiese metrologie en meetkunde toepas vir die meting van klein parte en toebehore, seker maak dat die volgordes reg hardloop en moes toesien dat die plate op die korrekte tyd gedruk word en nie te groot gedruk word nie.

Hy is in April 2023 na die tak in Gqeberha (Port Elizabeth) oorgeplaas en het hier robotopleiding ontvang. Met die finale praktiese eksamen het ek geen ineenstortings op my robot gehad nie en 90% op my uitslae verwerf. Die gevolg was dat Design aanbeveel het dat ek in die veld van robotika vir hulle moet gaan.

Hierna was hy so bevoorreg om deel van die groep van 260 ambagslui te vorm wat in Amerika werk gaan doen het. Hy is vanaf 17 April 2024 by die Michigan-fabriek in Amerika werksaam. Die fabriek is hoofsaaklik verantwoordelik vir die vervaardiging van Geo-palette wat deur Ford gebruik word wat, onder andere, meganiese installering insluit.

Tans is Francois ‘n vervaardigingsdirekteur en hy werk met toleransies van 0.1 mm. Die grootste uitdaging wat hy in die vreemde land werksgewys ervaar is die feit dat ‘n mens binne ‘n multikulturele omgewing werk en ‘n mens jou ingesteldheid moet regkry om kulturele verskille te oorkom.

Dit is fisies harde werk, met lang ure en ‘n groot werklading. Hy werk in 12-uur skofte, 6 dae per week. “My studies by Sol-Tech het my uitstekend vir hierdie projek voorberei. Ek kan met alle eerlikheid sê dat die onderrig in my Moedertaal (Afrikaans) my geensins benadeel het nie, selfs al is ek in ‘n hoofsaaklik Engelse land.”

Wat geniet hy daar in die verte? Dit is ‘n belewenis om te sien hoe patrioties die mense oor hulle land voel, daar is net vlae oral waar jy kyk. Verder is daar darem ook ‘n bietjie tyd om dinge te doen wat toeriste doen. Soos om die Henry Ford Museum te besoek.

Op die vraag of hy nie na braaivleis verlang nie, antwoord hy vinnig: ”Nee wat, ons braai steeds elke naweek.”

Nog nuus