Die ambagswêreld word tradisioneel gesien as ʼn manswêreld waar gespierde kêrels met oliebesmeerde hande in vuil oorpakke werk. Die werklikheid is egter ver verwyder van dié stereotipe – Sol-Tech het reeds 12 vroue in verskillende ambagte opgelei, meestal as elektrisiëns, maar ook as dieselwerktuigkundiges, gereedskapmakers en meulmakers.
Ons het met Simone van Vuuren gesels om meer oor haar ervaring as damestudent te wete te kom.
Simone is tans besig met haar elektriesevakopleiding by Sol-Tech. Sy sien haarself as ʼn ambagsvrou en geniet elke oomblik daarvan.
Simone het op ʼn kleinhoewe grootgeword waar haar pa drie rolle vervul het: hy was werktuigkundige, loodgieter en elektrisiën. “Ek het dit altyd geniet om saam met my pa te werk en só het ek blootstelling aan die ambagswêreld gekry.” Haar gunsteling-leerareas is PLC en Elektronika.
Watter uitdagings ervaar jy as vrou in jou studie?
“Daar is elke dag ʼn uitdaging of twee, maar ek glo dat ʼn mens daardie uitdaging moet oorkom en probeer om jou sterk punte meer te maak. ʼn Uitdaging mag jou nooit onderkry nie!”
Watter vroue inspireer jou en waarom?
“Die vrou wat my die meeste inspireer is my Elektronika-lektor, Angelique Jordaan.”
Sal jy vroue aanbeveel om in ʼn ambagsrigting te studeer?
“Ek dink vroue kan definitief goed vaar in ʼn ambagsrigting, veral as jy mal is daaroor om met jou hande te werk – dan is dit die beste rigting vir jou om in te wees. Daar is min vroue in hierdie rigting, maar dit maak die leemte en geleentheid juis so groot vir vroue om ook hul passie hier uit te leef.”
Wat is jou “eendag”-droom?
“Ek wil my graag verder bekwaam in PLC. Ek droom daarvan en werk nou reeds hard daaraan om eendag ʼn sukses van my loopbaan te maak. As ek Sol-Tech se naam kan hooghou en hulle trots kan maak, sal ek baie gelukkig voel.”