outo elektries

Outo-elektries vanaf Oktober 2022 by Sol-Tech aangebied

Sol-Tech voeg vanaf Oktober 2022 ʼn kraakvars gehaltekwalifikasie by sy leeraanbod. Dit volg nadat daar onlangs goedkeuring vanaf die Gehaltebeheerraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) ontvang is om hierdie kwalifikasie aan te bied. Die outo-elektrisiënkwalifikasie is ʼn toevoeging tot die ses vakrigtings wat Sol-Tech reeds die afgelope jare met groot sukses aanbied, naamlik Meulmaker, Elektries, Dieselwerktuigkunde, Pas en Draai, Gereedskapmaker en Sweis.   

“Die byvoeging van dié ambagkwalifikasie stel Sol-Tech nou in staat om nog meer moontlikhede te bied aan leerders wat in ʼn ambagsrigting belangstel, en om in die enorme tekort aan skaars vaardighede in Suid-Afrika te voorsien!” sê Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech. “Sol-Tech het ten doel om jongmense se toekomsdrome deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik, en die toevoeging van hierdie kwalifikasie verbreed ons aanbod om vir nog meer jongmense ʼn sekere toekoms in Suid-Afrika te verseker.” 

Die outo-elektrisiënkwalifikasie is spesifiek ontwikkel met leerders in gedagte wat in die instandhouding en herstel van elektriese stelsels en toestelle in voertuie, vragmotors en busse belangstel. Die kwalifikasie rus leerders met kennis en vaardighede toe om foute effektief te diagnoseer en die installering, inspeksie, herstel en instandhouding van elektriese komponente in voertuie te kan uitvoer. Alle ander elektriese toerusting en bykomstighede in voertuie, soos onder andere die ligte, teendiefstaleenhede en alarms, lugversorging, sentrale sluitstelsels, CAN-BUS, digitale paneelbord ensovoorts, is hierby ingesluit. 

Studente wat hierdie kwalifikasie deurloop, gaan dit op die suksesvolle en unieke driefase-model van Sol- Tech doen waar die teorie, praktyk en indiensopleiding belangrike boustene van die studente se skoling vorm en hulle uitstekend vir die werkplek toerus. 

“Ons studente vaar uitstekend in die praktyk; daarvan getuig ons statistiek, met 94,7% van ons studente wat suksesvol werk kry nadat hul kwalifikasie voltooi is. Ons glo dit sal dieselfde met hierdie kwalifikasie wees.”

Nog nuus