Sol-Tech hou op 24 en 25 Februarie 2023 ’n opedag vir voornemende studente om meer te wete te kom oor die gehalte-opleiding wat Sol-Tech bied.
“Die Sol-Tech-opedag is werklik ’n heerlike ervaring. Voornemende studente kry hiér die geleentheid om die kampus te kom beleef, deur die werkwinkels en splinternuwe IT-laboratorium te stap, die unieke studentelewe te kom beleef en om met ons huidige studente te gesels. Daar is ook heelwat uitstallers wat definitief jou belangstelling verder sal prikkel. Dit is ’n fantastiese dag en jy gaan verseker met ’n opgewondenheid oor jou toekoms van die kampus af wegry,” sê Chantal Swart (bemarkingsbestuurder van Sol-Tech).
Sol-Tech bied vanaf 2023 nóg meer studie moontlikhede met die toevoeging van drie IT-kwalifikasies aan studente. Voornemende studente kan uitsien na kwalifikasies as data- en wolkspesialiste; kubersekuriteitspesialiste en IT-ondersteuning- en netwerkspesialiste.
“Sol-Tech is opgewonde oor jongmense se toekoms in Suid-Afrika. Ons doel was nog altyd om jongmense indiensneembaar te maak en so hul toekoms vir hul te laat werk. Beide die ambaggerigte- en IT-kwalifikasies is gesog in die mark en ons studente doen baie goed in die industrie. Sien jou by die opedag!”
Sol-Tech lei vir die afgelope 15 jaar ambagslui as meulmakers, passer-en-draaiers, elektrisiëns, dieselwerktuigkundiges, gereedskapmakers en sweisers op. Twee splinternuwe kwalifikasies, naamlik outo-elektries en megatronika word ook vanaf 2023 aangebied. Die verpligte keuringstoets kan tydens die opedag op kampus afgelê word en daar sal ook geleentheid wees om vrae aan Ajani (Sol-Tech se private plasingsmaatskappy) te stel.
Voornemende studente word uitgenooi om hul plek vir bywoning van die opedag by www.sol-tech.co.za te bespreek.
Besoek gerus die kampus tussen die volgende tye:
Vrydag, 24 Februarie 2023 vanaf 13:00 tot 16:00 en Saterdag, 25 Februarie 2023 vanaf 08:00 tot 13:00.
Stuur gerus ‘n e-pos aan [email protected] vir enige verdere navrae, besoek ons webblad by www.sol-tech.co.za of kom kuier saam met ons op Facebook of Instagram.